500 walvisse spoel uit naby NS

DIe uitgespoelde walvisse op Nieu-Seeland se afgeleë Chatham-eilande. (Foto: Twitter)

Ongeveer 500 walvisse het binne dae op Nieu-Seeland se afgeleë Chatham-eilandreeks uitgespoel.

Sowat 250 uitgespoelde loodswalvisse is Vrydag op Chatham-eiland gevind. Nog 240 loodswalvisse het drie dae later op Pitt-eiland uitgespoel.

Sommige van die walvisse het nog gelewe, maar is later van kant gemaak. Die ligging van die massastrandings – ver van die Nieu-Seelandse vasteland – het ʼn reddingsoperasie onmoontlik gemaak, sê die regering.

“Weens die risiko van ʼn haai-aanval op mense én walvisse is die oorlewende walvisse deur ons opgeleide span van kant gemaak om verdere lyding te voorkom,” verduidelik Dave Lundquist, ʼn mariene raadgewer van die Nieu-Seelandse regering.

“Hierdie besluit word nooit ligtelik geneem nie, maar in gevalle soos hierdie is dit die genadigste opsie.”

Die walviskarkasse sal nou op die Chatham-eilandreeks agtergelaat word om te ontbind.

DIe uitgespoelde walvisse op Nieu-Seeland se afgeleë Chatham-eilande. (Foto: Twitter)

Massastrandings is nie ongewoon hier nie. Die grootste stranding tot op hede op dié eilande het in 1918 plaasgevind toe ʼn geskatte 1 000 uitgespoel het.

In 2017 het byna 700 loodswalvisse hier uitgespoel.

Die oorsaak van massastrandings word steeds nie ten volle verstaan ​​nie, maar wetenskaplikes weeg talle teorieë op. Sommige vermoed dat die walvisse die pad byster geraak het toe hulle te naby aan die kus gevreet het.

Loodswalvisse – wat tot meer as ses meter lank kan word – is baie sosiaal en sal selfs lede van hul skool in ʼn gevaarsone in volg.

Luidens amptelike syfers spoel ongeveer 300 diere jaarliks uit in Nieu-Seeland. Dit is ook nie ongewoon dat groepe van tussen 20 en 50 loodswalvisse saam gestrand word nie.

Maroela Media het vroeër berig nagenoeg 230 loodswalvisse het verlede maand aan die weskus van Tasmanië uitgespoel.

Die presiese oorsaak van dié stranding is ook nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hoekom ·

Oowee, hulle moet net nie poep nie, dan gaan die regering hulle belas…

ENFM ·

Wonder hoeveel metaangas walvisse uitlaat.. en wat die effek daarop op NZ se omgewing sal wees.

koos ·

Moet walvisse van SA af wees…. selfs hulle word nou g@tvol.

Delia ·

Is dit belangrik hoekom hulle gestrand het. Die natuur weet.
Die natuur het sy manier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.