52 sterf toe fabriek brand

’n Brand het ná die ontploffing uitgebreek en het teen Vrydagoggend steeds gewoed (Foto: Munir UZ Zaman, AFP)

Altesaam 52 mense is dood en 30 beseer in ʼn ontploffing by ʼn groot kosfabriek in Bangladesj in Suid-Asië.

Die ontploffing het Donderdagaand in die sesverdieping Hashem Food and Beverage-fabriek in Rupgani, ʼn nywerheidsdorp buite Dhaka, plaasvind. ’n Brand het ná die ontploffing uitgebreek en het teen Vrydagoggend steeds gewoed.

Volgens Dinu Moni Sharma, hoof van die brandweer in Dhaka, het die gebou erg gebrand weens die vlambare chemikalieë en plastiek in die fabriek.

Brandbestryders het gesukkel om die brand op die vyfde en sesde verdieping te blus. Talle fabriekwerkers was teen Vrydagoggend steeds op dié vloere vasgekeer. Dit is nog nie duidelik hoeveel werkers in totaal in die fabriek vasgekeer is nie.

Bekommerde familielede en fabriekwerkers het buite die fabriek gestaan en toekyk hoe die gebou brand (Foto: Munir UZ Zaman, AFP)

Van dié werkers op dié vloere het gespring om aan die brand te ontkom.

Brandweermanne het tientalle verkoolde liggame op die boonste verdiepings van die fabriek aangetref.

Altesaam 25 mense wat op die dak van die fabriek gaan skuil het, is reeds gered.

Sodra die brand in bedwang gebring is, sal ’n soek-en-reddingsoperasie van stapel gestuur word (Foto: Munir UZ Zaman, AFP)

Bekommerde familielede en fabriekwerkers het buite die fabriek gestaan en toekyk hoe die gebou brand.

Debashish Bardhan, woordvoerder van die brandweerdiens, het gesê sodra die brand in bedwang gebring is, sal ’n soek-en-reddingsoperasie van stapel gestuur word om enige verdere ongevalle te bevestig.

Brande is algemeen in Bangladesj omdat veiligheidsregulasies nie altyd getrou toegepas word nie. In Februarie 2019 het 70 mense gesterf toe ʼn brand in ʼn woonstelblok in Dhaka uitgebreek en versprei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tanniepetoors ·

Dis verskriklik. Kan iemand vir my sê of ons in SA ook fabrieke het in sulke hoë geboue?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.