55 sterf in Mexiko-ongeluk

Drie vroue steek kerse aan by die ongelukstoneel op die Tuxtla-Chiapa de Corzo-hoofweg in Chiapas, Mexiko (10 Desember 2021) (Foto: Alfredo Estrella/AFP)

Mexiko het Vrydag Washington gevra om sy migrasiebeleid te heroorweeg ná ʼn padongeluk die lewens van 55 ongedokumenteerde migrante geëis het. Die migrante het op ʼn vragmotor gery wat op pad was na die VSA.

Liggame onder wit lakens het langs die pad naby Tuxtla Gutierrez gelê in die suidelike Mexikaanse staat van Chiapas. ʼn Vragmotor wat ongeveer 160 migrante vervoer het, van wie die meeste van Sentraal-Amerika afkomstig is, het Donderdag omgeslaan.

Meer as 100 mense is beseer.

Duisende mense pak elke jaar die lang, gewoonlik gevaarlike en duur reis aan om van die geweld en armoede in hul lande in Suid- en Sentraal-Amerika te vlug. Sulke tragedies, het die Mexikaanse president Andres Manuel Lopez Obrador Vrydag gesê, moet die wêreld oorhaal om “die onderliggende probleem”, naamlik wanhoop, te takel. “Die migrasieprobleem kan nie deur dwangmaatreëls opgelos word nie, maar eerder deur werksgeleenthede en geleenthede vir ʼn beter lewe. Mense verlaat nie hul dorpe vir die plesier nie, hulle doen dit uit noodsaak.”

Volgens Lopez Obrador moet die VSA eerder belê in maatskaplike programme in Sentraal-Amerika indien hy die migrasieprobleem wil oplos. Hy het reeds dié kwessie met pres. Joe Biden aangeroer. “Maar daar is ʼn traagheid,” sê die Mexikaanse leier.

Die slagoffers van Donderdag se ongeluk is van Guatemala, Honduras, Ecuador, die Dominikaanse Republiek en Mexiko. Meeste van die persone wat gesterf het, is oorspronklik van Guatemala.

“Dit was verskriklik om die geween te hoor. Ek het nie geweet hoe om te help nie,” het die 18-jarige Sabina Lopez, wat naby aan die ongelukstoneel woon, aan AFP gesê.

Die bestuurder, wat van die toneel gevlug het, het na bewering die spoedgrens oortree toe hy beheer verloor het oor die vragmotor.

Die Nasionale Instituut van Migrasie sê hy poog om die oorledenes uit te ken, vir begrafnisse te betaal en liggame terug te stuur na die persoon se land van herkoms. Oorlewendes sal toegelaat word om in Mexiko tuis te gaan.

Die dodetal sal na verwagting styg, aangesien talle van die beseerdes in ʼn ernstige toestand na hospitale geneem is, het Luis Manuel Garcia, ʼn plaaslike beampte van burgerlike beskerming, gesê.

Lopez het aan AFP gesê sy het gesien hoe ʼn man pleit by sy vriend, wat beseer is. “Moenie slaap nie, moenie jou oë toemaak nie,” het die man glo gesê. “Onthou wat jy jou ma belowe het! Byt vas.”

Selvin Lanuza (18), wat Guatemala verlaat het vir ʼn beter lewe, het ʼn paar minute voor die ongeluk op die vragmotor geklim. “Ek onthou hoe mense geskree het toe die sleepwa omgeval het. Niks anders nie. Ek onthou net die geskree. Mense van nabygeleë huise het ons kom help.” Sy het met AFP gesels uit ʼn Rooikruis-fasiliteit waar sy vir geringe beserings behandel word.

Mense van nabygeleë nedersettings het Vrydag spontaan kerse op die ongelukstoneel geplaas en gebede opgesê.

Die prokureur-generaal se kantoor ondersoek ʼn saak van moord. Regeringsbeamptes ontken dat die vragmotor net voor die ongeluk deur ʼn padblokkade toegelaat is om verder te ry.

Owerhede in Guatemala het drie dae van nasionale rou aangekondig.

Mensehandelaars versteek gereeld ongedokumenteerde migrante in vragmotors om hulle van Guatemala na Mexiko te bring van waar hulle in ʼn noordelike rigting na die grens van die VSA beweeg. Ongelukke vind gereeld plaas. Twaalf migrante is verlede maand dood toe twee vragmotors in Chiapas gebots en aan die brand geslaan het.

Migrante het aan AFP gesê die reis op die vragmotor beteken ure sonder ventilasie, en hulle vermy dit om water te drink sodat hulle nie hoef te urineer nie. Vragmotorbestuurders ignoreer versoeke vir vars lug.

Talle migrante pak daarom eerder die lang reis te voet aan en sluit by sogenaamde karavane aan. Die reis word afgelê in uiterste weersomstandighede en bied verskeie uitdagings insluitend uitbuiting van dwelmbendes.

Die invloei van ongedokumenteerde migrante het toegeneem sedert Biden aan bewind gekom het met ʼn belofte dat die streng grensbeleide van sy voorganger Donald Trump geskrap sal word. Mexikaanse owerhede het tussen Januarie en September meer as 190 000 migrante opgemerk – dit is drie keer so veel as in 2020. Sowat 74 300 is gedeporteer.

Die VSA het tussen Oktober 2020 en September 2021 ʼn rekordgetal van 1.7 miljoen mense aangeteken wat die VSA onwettig van Mexiko af binnegekom het. Talle is uit die land geskop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

H.A. ·

Nou moet die VSA opdok omdat die mexikaners hulle eie land vernietig het.

Jeepie ·

Ek kan nie verstaan hoe Mexico kan se dat die VSA moet beleggings doen in Suid Amerika om die migrasie te stop nie. Dalk moet daai lande eerder self verantwoordelik gehou word vir die tragedie. Dalk moet hulle ook vir Biden verantwoodelik hou. Maar jy kan nie die VSA verantwoodelik hou nie. Wens ons het syfers van hoeveel mense SA verlaat. Wonder wie se skuld is dit. Nie Australia of new Zeeland nie.

Mieke ·

Mexico moet leer om sy eie mense op te pas en te beskerm!! Die regering het sy eie probleem geskep.

Cherokee ·

H. A. en Mieke, dit wat julle sê is die realistiese waarheid van die situasie. Die muntstuk het egter ‘n anderkant ook. Jul stelling sou presiès net so van pas wees, as óns sou hoop op vlugtelingstatus.
Julle sê dus dat ons ook moet sien kom klaar in Suid Afrika, al doen ons geen bydrae tot die verval van die land.

Johannes_64 ·

Klink of Mexico verstaan wat die probleem kan oplos. Maar as die mense van hulle buurlande af kom het hulle dalk self ‘n probleem by hulle suidelike grens.

Anel ·

En dit is wst kommunisme doen. Dan word dit demokratiese lande se probleem. Hoe kan dit die Amerikaners se probleem wees? Net soos in Europa. Die Britte is kwaad vir die Franse wat die lot oor die kanaal laat gaan, maar sodra hulle oor die Franse grens, in Britse waters is, is dit mos nie meer die Franse se pobleem nie. Die Britte verwelkom mos enige Jan, Rap en sy maat. Hulle wil tog net nie as rassiste gebrandmerk word nie.

Boatsie ·

Mensdom dis hartseer, maar daai regerings moet prosesse in plek sit om aanwas te beheer en werk te skep. Jy kan nie net elke keer vra en die VSA verkwalik dat hul nie kan help nie.
Dis seker ook maar die wereldwye “siekte” van mense weet hul is werkloos en sukkel, maar beheer hulself nie om minder kinders te hê nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.