56 olifante vrek raaiselagtig in Botswana

ʼn Olifant in die water by Chobe Nasionale Park in Botswana (Foto: Chobe Nasionale Park via ANA)

Botswana stel ondersoek in oor die raaiselagtige sterftes van 56 olifante, binne twee maande ná stropery as ʼn moontlikheid uitgeskakel is.

Volgens die land se ministerie van omgewingsake, natuurlike hulpbronne, natuurbewaring en toerisme, het die olifante in die noordwestelike gebiede van Seronga en Eretsha gevrek, naby die bekende Okavango Delta.

“Twaalf olifantkarkasse is verlede week bevestig ná 44 karkasse op 18 Maart 2020 gevind is. ʼn Ondersoek oor die oorsaak van hul afsterwe word ondersoek. ʼn Waarnemingsoperasie duur ook voort om enige ander karkasse op te spoor,” het die ministerie in ʼn verklaring gesê.

Veeartse het tot dusver reeds die moontlikheid van stropery uitgeskakel omdat al die karkasse onaangeraak gevind is.

Plaaslike inwoners is opdrag gegee om nie die vleis van die oorskot te eet nie.

Internasionale media het in Oktober 2019 berig Botswana het meer as 100 olifante verloor weens ʼn vermoedelik antraks-uitbreking. Die bakterie kan jare lank onaktief in grond of plante bly leef. Sodra dit egter deur ʼn dier ingeneem of ingeasem word, kan die selle weer aktief raak en begin reproduseer waartydens dodelike gifstowwe vervaardig word.

Die natuurbewaringsgroep Elephants Without Borders het verlede jaar gewaarsku oor ʼn toename in stropery van olifante in dele van Botswana. Volgens die organisasie is nagenoeg 400 olifante tussen 2017 en 2018 doodgemaak.

Die regering het in Februarie vanjaar sewe olifantjaglisensies op ʼn veiling verkoop ná ʼn verbod op olifantjag op ʼn omstrede wyse opgehef is. Die regering voer aan dit kan die olifantbevolking bedreig.

Botswana se jagseisoen moes in April begin het, maar is tydelik opgeskort weens die koronavirus-uitbreking.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Erika

Mense is besig om die Omgewing en diere te stroop -Vir selfsugtige gewin. Daardie skuldiges..en hulle travante dink nie daaraan dat Olifante Sal uitsterf en hulle nageslag sal nie eers meer weet hoe lyk n Olifant nie