58 sterftes reeds met kultus verbind

Klere lê gestrooi in die woud waar die oorskot van kultusvolgelinge in Shakahola, buite Malindi in Kenia gevind is (23 April 2023) (Foto: Yasuyoshi Chiba/AFP)

William Ruto, president van Kenia, het Maandag onderneem om toe te slaan op “onaanvaarbare” godsdienstige bewegings nadat die polisie nog sterftes gevind het in ʼn kultus wat verhongering toegepas het. Die dodetal staan op 58.

ʼn Groot soektog duur voort in die woud naby Malindi waar dosyne liggame oor die naweek gevind is. Owerhede is besorg dat nog liggame gevind kan word.

ʼn Grootskaalse ondersoek is van stapel gestuur oor die Good News International Church en sy leier, Paul Mackenzie Nthenge.

Maroela Media het vroeër berig Nthenge het sy volgelinge aangesê om hulself te verhonger “om Jesus te ontmoet”.

Van die volgelinge kruip vermoedelik steeds in die bosse naby Shakahola weg. Die polisie het vroeër vandeesmaand ʼn klopjag uitgevoer ná ʼn wenk ontvang is van ʼn plaaslike niewinsgerigte organisasie.

Verskeie mense is intussen gered en dosyne liggame is in massagrafte gevind.

“Altesaam 58 sterftes is tot dusver bevestig. Dit sluit in liggame wat uit die massagrafte gehaal is en mense wat op pad na die hospitaal gesterf het,” het polisiehoof Japhet Koome gesê, wat die toneel Maandag besoek het.

ʼn 325 hektaar groot gebied is as ʼn misdaadtoneel verklaar en spanne, geklee in oorpakke, is op soek na nog grafte en moontlike kultus-oorlewendes.

Ruto het gesê daar is “geen verskil” in skelm pastore soos Nthenge en terroriste nie. Nthenge is reeds in hegtenis geneem en is verhoorafwagtend.

“Terroriste gebruik godsdiens om hul verskriklike dade te bevorder. Mense soos mnr. Mackenzie gebruik godsdiens vir presies dieselfde redes.”

Ruto het die verantwoordelike agentskappe opdrag gegee om die oorsaak te bepaal van die aktiwiteite van “mense wat godsdiens misbruik om vreemde, onaanvaarbare ideologie te bevorder”.

Terwyl owerhede besig is om die ware omvang van die “Shakaholawoud-slagting” te bepaal, word vrae gevra oor hoe die kultus in staat was om in die verborgenheid voort te gaan met hul optrede, ondanks die feit dat Nthenge ses jaar gelede die polisie se aandag getrek het.

“Die onthulling van die kultussterftes moet ʼn wekroep wees vir die land, veral die nasionale intelligensiediens en ons gemeenskapspolisiëringsprogram,” het Amason Jeffah Kingi, speaker van die senaat, in ʼn verklaring gesê. “Hoe kan só ʼn verskriklike misdaad, georganiseerd en oor ʼn lang periode uitgevoer, die radar ontduik van ons intelligensiestelsel?”

Nthenge is in 2017 in hegtenis geneem op aanklag van “radikalisering” ná hy families gemaan het om nie hul kinders skool toe te stuur nie. Volgens hom word opvoeding nie deur die Bybel erken nie.

Hy is verlede maand weer in hegtenis geneem, volgens plaaslike media, toe twee kinders in die sorg van hul ouers verhonger en gesterf het.

Hy is vrygelaat op borgtog van 100 000 Keniaanse sjilling (sowat R14 000) voor hy ná die Shakahola-klopjag hom aan die polisie oorgegee het.

Nog 14 mense is ook in aanhouding oor die Shakahola-sterftes, aldus Koome. Die saak sal na verwagting op 2 Mei aangehoor word.

Daar is vrese dat sommige lede van die kultus vir owerhede wegkruip in die omliggende bosse en dat hulle kan sterf as hulle nie vinnig gevind kan word nie.

Verskeie mense is reeds gered en is na ʼn hospitaal in Malindi geneem aan Kenia se kusgebied aan die Indiese Oseaan.

Hussein Khalid, ʼn lid van die regtegroep Haki Africa, het die polisie gekontak oor die kerk se optrede en gesê iemand wat gered is, het geweier om te eet selfs al was hulle klaarblyklik verhonger.

“Sy het absoluut geweier om te eet of dat ons noodhulp toepas,” het hy aan AFP gesê. “Sy het haar mond styf toegeknyp en enige hulp geweier. Sy wou voortgaan met haar vas totdat sy sterf.”

Die Rooi Kruis in Kenia het gesê 112 mense is by sy ondersteuningspersoneel in Malindi as vermis aangemeld.

Kithure Kindiki, minister van binnelandse sake, het gesê hy sal die toneel Dinsdag besoek. Hy het die saak beskryf as “die duidelikste misbruik van die grondwetlik verankerde mensereg op godsdiensvryheid”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.