60 000 dakloos na sikloon Madagaskar tref

Inwoners bekyk die skade aan ‘n pad in Ranomafana nadat sikloon Batsirai die eilandnasie Madagaskar die naweek getref het. (Foto: Rijasolo/AFP)

Die dodetal weens sikloon Batsirai wat Madagaskar vroeër getref het, staan nou op 30 en kan aansienlik hoër styg terwyl meer liggame in die puin van verwoeste huise gevind word.

Die eiland-nasie se rampbestuursagentskap (BNGRC) het Woensdag gesê die dodetal het gestyg van 21 die vorige aand, tot die amptelike syfer van 30 waarop dit tans staan. Sowat 94 000 mense is deur die sikloon geraak en sowat 60 000 is nou haweloos.

Talle nie-regeringsorganisasies en agentskappe van die Verenigde Nasies (VN) het reeds begin om voorraad en spanne na die rampgeteisterde gebied te stuur wat deurgeloop het onder swaar reën en wind van tot 165 km/h.

Die tropiese sikloon het Madagaskar Saterdagaand en Sondag op ʼn 150 km lange, yl bevolkte landelike gebied aan die ooskus van die eiland getref. Namate die sikloon na die binneland beweeg het, het dit ryslande in die land se sentrale “broodmandjie” verwoes, wat vrese vir ʼn humanitêre krisis laat verhoog het.

Duitse kenners is reeds in die land – een van die wêreld se armstes – om met noodlenigingsoperasies te help. Daar is ook reeds begin om 20 paaie en 17 brûe wat ineengestort en nedersettings van die res van die land afgesny het, te herstel.

Jean Francois Basse, ʼn lid van die Unicef-afvaardiging in die land, sê maatskaplike dienste is veral swaar getref. “Tientalle skole en mediese sentrums is deur Batsirai beskadig of verwoes en dit het ʼn regstreekse uitwerking op kinders,” sê hy.

Daar moet ook nie net na hul onmiddellike behoeftes gekyk word nie, maar ook na langtermynplanne om beter geboue op te rig.

Madagaskar tel nog die stukke op ná tropiese storm Ana die eiland verlede maand getref het. (Foto: Rijasolo/AFP)

Daar heers ook groot kommer oor gewasse wat deurgeloop het.

“Ons weet vir seker dat ryslande en rysoeste beskadig of verlore gaan wees. Dit is die hoofgewas van die Malgassiese mense en hulle voedselsekerheid gaan oor die volgende drie na ses maande ernstig geraak word as ons nie nou iets doen nie,” sê Pasqualina DiSirio, direkteur van die Wêreldvoedselprogram in die land.

Die VN het begin om warm etes in Manakara, een van die gebiede wat die kwaaiste getref is, te versprei.

Talle organisasies, onder wie Action Against Hunger, Handicap International, Save the Children en Medecines du Monde, was voor die sikloon getref het al op ʼn gereedheidsgrondslag en het gehelp om toerusting en medisyne bymekaar te kry.

Benewens die regeringshulp wat hulle kry, verskaf die organisasies ook hulp in die vorm van kos, primêre gesondheidsdienste en die verspreiding van kombuistoerusting, komberse en higiëniese produkte.

Sowat 77% van Madagaskar se 28 miljoen mense lewe onder die broodlyn, en die sikloon kom te midde van ʼn ernstige droogte in die suide van die land waar meer as ʼn miljoen mense nou al aan akute wanvoeding ly. Hongersnood staar talle in die gesig.

Madagaskar tel nog die stukke op ná tropiese storm Ana die eiland verlede maand getref het. Altesame 55 mense, die meeste van hulle in Antananarivo, het omgekom. Ana het Malawi, Mosambiek en Zimbabwe ook getref en tientalle sterftes veroorsaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Klink soos nog n anc land als val uit mekaar.

Martin

Dit is langs Afrika maar met dieselfde mentaliteit as Afrika. Soos hulle sê “Welcome to Africa…”

Salome

Ek lees hier bo dat daar baie mense is wat onder die broodlyn leef. Nou wil ek graag weet: Hoekom het die arm mense so baie kinders. Hulle kan nie eers vir die kinders sorg nie, maar kinders moet hulle he. Hoekom kan daar nie ‘n plan gemaak om hierdie tipe mense in te lig dat hulle moet nie so baie kinders he nie. Kyk na Suid Afrika. Hulle het nie werke nie en kan nie oorleef nie, maar die hoeveelheid kinders wat hulle het pla hulle nie. Die regering of te wel ons belastingbetalers moet vir hulle sorg. Hoekom.… Lees meer »