64 dood ná skip by Madagaskar sink

Die dodetal nadat ʼn vaartuig aan Madagaskar se noordoostelike kus skipbreuk gely het, het nou tot 64 gestyg nadat nog 25 liggame ontdek is. Minstens vyf van die slagoffers is kinders.

ʼn Malgassiese minister wat na die ramptoneel gereis het, moes boonop 12 uur lank tot op ʼn strand swem nadat sy helikopter aan die noordoostelike kus van die eilandnasie neergestort het.

Die vaartuig, vermoedelik ʼn vragskip wat glo onwettig passasiers vervoer het, het Maandag met 130 mense aan boord in die Indiese oseaan gesink.

Vyftig 50 passasiers is gered en nagenoeg 15 mense word steeds vermis. Die soektog na oorlewendes duur intussen voort.

“Altesaam 25 liggame is vanoggend naby die Sainte-Marie-eilande gevind, vermoedelik weens seestrome, wat die dodetal op 64 te staan bring,” het genl. Zafisambatra Ravoavy van die Madagaskar-polisie gesê.

Maritieme owerhede sê die aanvanklike ondersoek dui daarop dat die vaartuig se enjin “tegniese probleme” ondervind het. Dit het die skip aan die genade van getystrome oorgelaat en dit het op ʼn rif gestrand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.