64-jarige kry tweeling; ander kind weggeneem

ʼn 64-jarige vrou van Spanje het vandeesweek lewe aan ʼn gesonde tweeling geskenk (Foto: Recoletas)

ʼn 64-jarige vrou van Spanje het vandeesweek lewe aan ʼn gesonde tweeling geskenk (Foto: Recoletas)

ʼn 64-jarige vrou van Spanje het vandeesweek lewe aan ʼn gesonde tweeling geskenk. Dit volg nadat dié einste vrou in 2011 op 58-jarige ouderdom geboorte aan haar eerste dogter gegee het.

Die Recoletas-hospitaal in die noorde van Spanje het in ʼn verklaring gesê die vrou, wat nie geïdentifiseer wil word nie, het die tweeling, ʼn seun en ʼn meisie, met behulp van ʼn keisersnee in die wêreld gebring.

Volgens die hospitaal is die geboorte ʼn “uitsonderlike en besonderse geval”. Twee ginekoloë, twee pediaters en twee vroedvroue was by die geboorte betrokke om te verseker dat alles glad verloop.

Volgens CBS is die vrou se dogter (6) in welsynsorg omdat sy nie skoolgaan nie en daar nie ordentlik na haar omgesien word nie.

ʼn 64-jarige vrou van Spanje het vandeesweek lewe aan ʼn gesonde tweeling geskenk (Foto: Recoletas)

ʼn 64-jarige vrou van Spanje het vandeesweek lewe aan ʼn gesonde tweeling geskenk (Foto: Recoletas)

Recoletas-hospitaal het ook aan dié webwerf bevestig dat hulle met ʼn gemeenskapswelsynsorganisasie beraadslaag om te besluit of die vrou daartoe in staat sal wees om na die tweeling om te sien.

Die vrou moet glo ook ʼn reeks ondersoeke voltooi om te verseker dat sy bevoeg is. Sy het glo etlike maande vantevore in vitro-behandeling in die VSA ondergaan om met die tweeling swanger te raak.

In April verlede jaar het ʼn Indiese vrou, Daljinder Kaur, op 70 jaar lewe aan ʼn seun geskenk. Dié baba was haar eersteling uit haar huwelik met haar 79-jarige man.

Wetgewing in Spanje verhoed nie vroue om swanger te raak ná ʼn sekere ouderdom nie.

Bron: Recoletas, CBS

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

broos ·

die dokter/institute wat die in-vitro gedoen het moet pa staan vir daai kinders!! wie is so simpel om vir ‘n 64-jarige in-vitro te gee? duidelik kan hulle nie verder as hulle neuse dink nie! seriously???

Opinie ·

Nee regtig Broos, jy stel dit meer diplomaties as ek. Pure origheid. En dit na haar eerste kind weggevat is van haar omdat sy duidelik ‘n slegte ma is.

Reinette ·

Ek dink ook dit is oneties om vir n 64jarige vrou invitro te gee.
Dis nou wanneer medici met die natuur inmeng dat sulke verspotte goed gebeur. Die invitro kliniek moes eers n agtergrond ondersoek gedoen het. n 2-ling as die kleuter reeds in welsynsorg is?

Anoniem ·

Wonder hoeveel kinders het sy nou al in totaal?

Ek stem saam met Reinette, hoe kan sy nog kinders wil hê as die 6 jarige reeds by haar weggeneem is omdat sy nie skoolgaan nie EN DAAR NIE ORDENTLIK NA HAAR OMGESIEN WORD NIE? Ek dink die ouderdom het haar denke aangetas.

Jane ·

HOE DINK DIE MENSE?? Dit is belaglik. Hoe gaan sy hierdie kinders end-uit sien? Sy gaan 70 wees as die kinders skooltoegaan. Enige regdenkende mens sou dit nie toegelaat het nie. Ek kan weereens nie dink aan die ETIESE optrede van die dokters wat die invitro bevrugtings doen nie. .. of is dit nou weer BEKENDHEID wat hulle daarmee verwerf? “n Rare geval, maar wie dink aan die kinders? Natuurlike swangerskap is een ding, en ek glo daarteen kan daar nie wette wees nie, maar wragtie met invitro MOET jy die ma se ouderdom in ag neem. En dan maak sy nog kinders maar kan nie eers vir die eerste (jong) enetjie sorg nie? Dis ‘n skande.

Rina Pretorius ·

haar oudste dogter is 6 jaar oud en nou die 2ling. Alles goed en wel maar ‘n mens op daardie ouderdom het nie meer lus vir babas en klein kindertjies nie, as ouma/oupa is dit okay maar nie jou eie nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.