70 000 huise in Bangkok oorstroom

Talle provinsies in Thailand word deur die oorstromings geraak. (Foto: Lillian Suwanrumpha/AFP)

Thaise owerhede het hulle Dinsdag gehaas om dele van Bangkok teen vloede te beskerm nadat sowat 70 000 huise reeds in dié stad oorstroom het en ses mense oorlede is.

Thailand se departement vir die voorkoming en verligting van rampe het gesê die tropiese storm Dianmu het vloede in 30 van die land se provinsies veroorsaak.

Bangkok, die hoofstad van dié land, is die ergste deur die verwoestende oorstromings getref.

Thailand se reënseisoen bereik ʼn hoogtepunt in Augustus en September, wat dikwels grootskaalse skade tot gevolg het.

Soldate het vandeesweek geskarrel om sandsakke om antieke argeologiese ruïnes, bakens en woonbuurte in die ou koninklike hoofstad van Ayutthaya op te rig om dié gebiede teen die water te beskerm.

Banke en ondernemings in Thonglor, ʼn distrik in Bangkok wat op moeraslande gebou is, is ook met sandsakke toegemaak.

Landbougrond en rysvelde in laagliggende gebiede het vantevore oorstromings voorkom, maar dié grondgebiede is weens grootskaalse uitbreidings in woonbuurte omskep.

Owerhede hoop om die rampspoedige reënseisoen van 2011 te voorkom, wat meer as 500 mense se lewe geëis het.

Plaaslike media berig egter dat die stad se vloedvoorkomingsplanprojek, wat ondergrondse reservoirs en tonnels insluit, nie voltooi is nie weens probleme met die verkryging van die nodige grondgebied.

Volgens Aswin Kwanmuang, goewerneur van Bangkok, is die Chao Phraya-rivier, wat vir 400 km noord van Bangkok strek, se watervlak geleidelik aan’t styg. Dít terwyl verskeie damme se sluise in en om Bangkok oopgemaak word om verdere vloede te voorkom.

“Ons sal inwoners vroegtydig waarsku indien die watervlak te veel styg en daar ʼn moontlikheid van kitsvloede is,” het hy gesê.

Soldate staan gereed met waterpompe en sandsakke indien dié rivier wel oorspoel.

Reddingswerkers het oor die naweek duisende mense in die geraakte provinsies gered, terwyl verskeie inwoners ook ingespring het om onder meer diere uit die vloedwaters te haal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.