8 sterf tydens moordtog: ‘My koeëls het opgeraak’

Polisiebeamptes neem Willie Corey Godbolt Sondagoggend (28 Mei 2017) in hegtenis. Foto: Therese Apel/The Clarion-Ledger via AP

Agt mense is dood nadat ʼn man van Mississippi in die VSA Saterdagaand ʼn moordtog onderneem het en onder meer ʼn polisiebeampte doodgeskiet het.

Die polisie is Saterdag kort voor middernag na ʼn huis in Bogue Chitto ontbied waar ʼn polisiebeampte en drie ander mense doodgeskiet is.

Willie Corey Godbolt het glo by die huis opgedaag waar sy vervreemde vrou en haar twee kinders saam met haar ma en stiefpa gebly het. Vincent Mitchell, Godbolt se stiefskoonpa, het gesê Godbolt se vrou en kinders het die afgelope drie weke by hulle gebly. Volgens hom was daar al jare lank probleme van huishoudelike geweld tussen die egpaar.

Polisiebeamptes neem Willie Corey Godbolt Sondagoggend (28 Mei 2017) in hegtenis. Foto: Therese Apel/The Clarion-Ledger via AP

“[Godbolt] het gekom om die kinders te kry en die polisie is ontbied,” het Mitchell gesê. “Dit het aanvanklik gelyk asof hy gehoor gee aan die polisie. Hy het gelyk asof hy op pad was om te loop. Toe het hy skielik ʼn vuurwapen uit sy agtersak uitgehaal. Hy het net begin om alles te skiet.”

Mitchell en Godbolt se vrou kon daarin slaag om te vlug, maar Mitchell se vrou, een van haar dogters en haar suster is doodgeskiet. William Durr, ʼn voormalige polisiebeampte, is ook doodgeskiet.

Volgens die owerhede het Godbolt daarna na die nabygeleë Brookhaven gevlug waar hy nog vier mense in twee ander huise doodgeskiet het. Godbolt is ongeveer sewe uur ná die eerste skietvoorval in hegtenis geneem.

Die owerhede wou geen besonderhede gee oor Godbolt se verhouding met die oorledenes nie, maar mense van Godbolt se kerk het aan die media gesê al die oorledenes behalwe Durr is familie van Godbolt.

Christianna May-Kelly (middel) huil buite haar ouers se huis in Brookhaven, Mississippi. May-Kelly het aan verslaggewers gesê haar ouers is deel van die agt mense wat doodgeskiet is. Foto: AP Photo/Rogelio V. Solis

Warren Strain, woordvoerder vir die Mississippi-ondersoekburo, het gesê Godbolt sal van moord aangekla word, maar dit is nog onduidelik wat die motief vir die moorde was.

Godbolt het egter, terwyl hy op die grond langs ʼn pad in Brookhaven gesit het met sy hande agter sy rug geboei, met die nuusnetwerk The Clarion-Ledger gepraat. Hy het gesê hy wou met sy vrou praat om hul kinders saam met hom huis toe te neem.

“Iemand het die polisie gebel, mense wat nie eens in daardie huis bly nie. Dit is wat hulle doen. Hulle meng in,” het hy gesê. “Hulle het hom [Durr] sy lewe gekos. Ek is jammer. My pyn was nie vir hom bedoel nie. Hy was net daar. Ek is nie daarop geregtig om te lewe nie, nie ná wat ek gedoen het nie.”

Godbolt is na ʼn hospitaal geneem met ʼn skietwond, hoewel dit nie duidelik is wie hom geskiet het nie.

Hy het ook gesê sy plan was nie dat hy lewend aangekeer moes word nie. “My voorneme was vir hulle om my dood te maak. My koeëls het opgeraak. Ek wou gehad het ʼn polisiebeampte moes my doodskiet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

al ·

Hoekom ander se lewens vernietig, waarom nie eerste by jousself begin nie, dan is jou probleme mos opgelos!

Kortsluiting ·

Wanneer daar ‘n kortsluiting kom in die brein van ‘n mens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.