823 ontsnap uit DRK-tronk

(Argieffoto: SA Polisie)

Altesaam 823 gevangenes het uit ʼn tronk in die oostelike deel van die Demokratiese Republiek van die Kongo ontsnap. Twee polisiebeamptes is dood, het bronne Woensdag gesê.

Gewapende mans “het oornag op die Kakwangura- sentrale gevangenis in Mutembo toegeslaan”, het kapt. Antony Mualushayi, weermagwoordvoerder in Beni, gesê.

“Volgens voorlopige syfers is twee polisiebeamptes dood,” het hy gesê. ʼn Vermeende aanvaller is ook dood.

ʼn Bron in korrektiewe dienste, wat anoniem wil bly, het gesê uit die 872 gevangenes het slegs 49 in die tronk oorgebly.

Mualushayi sê ʼn “onbekende Mai-Mai-groep” is verantwoordelik vir die aanval. Die term “Mai-Mai” verwys na ʼn inheemse selfverdedigingsgroep in die DRK se beleërde ooste.

ʼn Gerespekteerde Amerikaans gebaseerde monitor, die Kivu Security Tracker (KST), het egter op Twitter gesê die verdagtes is deel van die Allied Democratic Forces (ADF), ʼn bloeddorstige militia wat volgens die Islamitiese Staat sy streeksfiliaal is.

Volgens KST is twee polisiebeamptes dood en alle gevangenes het ontsnap.

Die ADF word verdink van duisende sterftes in die oostelike dele van die DRK, veral in Beni, en vir aanvalle op nabygeleë Uganda.

Die ooste van die DRK, ʼn land so groot soos westelike Europa, is al dekades lank onstabiel. Talle gewapende groepe is in die streek aktief, waarvan meeste ʼn oorblyfsel is van die twee streeksoorloë wat teen die einde van die vorige eeu opgevlam het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Christine ·

ISIS in die DRK en in Mosambiek…. dit kom te naby en met ons weermag….

Jack ·

Die spul is seker nou op pad na ons toe en sal seker nog met ope arms ontvang word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.