83 sterf in bomontploffings in Bagdad

Die toneel in Bagdad op 2 Julie 2016 ná 'n bomaanval in die stad Foto: Khalid Mohammed/AP Photo

Die toneel in Bagdad op 2 Julie 2016 ná ‘n bomaanval in die stad Foto: Khalid Mohammed/AP Photo

Minstens 83 persone is Sondagoggend dood en 176 beseer in twee verskillende bomaanvalle in Bagdad, Irak.

Minstens 78 persone is dood en 160 beseer tydens ʼn motorbom in Karada, ʼn besige sakedistrik in die middel van Bagdad, volgens die polisie en hospitaalbeamptes. Die motorbom het ontplof toe gesinne en jongmense in die straat was om hul daaglikse vas tydens Ramadan te breek.

Die Islamitiese Staat (Isis) het verantwoordelikheid aanvaar in ʼn verklaring wat aanlyn gepubliseer is. Volgens Isis het hulle doelbewus Sjiïete Moslems geteiken. Die verklaring kon nie onafhanklik geverifieer word nie.

Brandbestryders was teen dagbreek nog besig om die brand te bestry en liggame uit geboue te haal. Talle van die persone wat gesterf het, was kinders, volgens Associated Press-verslaggewers op die toneel. Die geluid van ambulanse wat na die toneel haas, kon nog ure ná die ontploffing gehoor word.

Volgens ʼn ooggetuie het die ontploffing tot brande by nabygeleë klere- en selfoonwinkels gelei.

Irak se eerste minister het ʼn paar uur ná die ontploffing die toneel besoek. Beeldmateriaal wat op sosiale media gelaai is, wys ʼn woedende skare met mense wat eerste minister Haider al-Abadi ʼn “dief” noem en op sy konvooi skree.

ʼn Ploftoestel het daarna in die ooste van Bagdad ontplof. Minstens vyf mense is dood en 16 beseer. Geen groep het tot dusver verantwoordelikheid aanvaar vir dié aanval nie.

Die polisie en hospitaalbeamptes het die dodetal bevestig. Hulle wou anoniem bly, omdat hulle nie gemagtig is om inligting aan die pers bekend te maak nie.

Die aanvalle in Bagdad volg skaars ʼn week ná Irakkese magte die stad Fallujah “ten volle vry” van Isis verklaar het. Irakkese magte het die afgelope jaar grond gewen teen Isis, en die stad Ramadi en die dorpe Hit en Rutba, in Anbar-provinsie, wes van Bagdad, teruggeneem.

Ondanks die regering se oorwinnings, het Isis egter steeds gewys hy kan aanvalle ver van die voorste linies loods.

Irak se eerste minister het voor die operasie, om Fallujah oor te neem, te staan gekom teen groeiende onrus en anti-regeringsbetogings in Bagdad wat aangevuur is deur ʼn gebrek aan sekuriteit in die hoofstad. Bagdad se hoogs versterkte Groen Sone, waar regeringsgeboue en diplomatieke besendings gehuisves word, is twee keer deur anti-regeringsbetogers bestorm.

Isis beheer steeds Irak se tweede grootste stad, Mosoel, asook beduidende grondgebiede in die land se noorde en weste.

Isis het in 2014 nagenoeg ʼn derde van die land uit die regering se hande oorgeneem. Die militante beheer nou, na beraming, slegs 14% van Irakkese grondgebied, volgens die land se eerste minister.

*Associated Press-skrywers Ali Abdulhassan en Khalid Mohammed in Bagdad en Maamoun Youssef in Kaïro het tot hierdie verslag bygedra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

vermeende ·

Nie onsimpatiek nie maar haal die terreur haat moorde op ons mense ook die nuus in die buiteland soos hulle moorde ons nuus haal?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.