89 sterf in ergste selfmoordaanval sedert 2001

Foto: AP

Foto: AP

Minstens 89 mense is Dinsdag in Afghanistan dood nadat ʼn selfmoordaanvaller ʼn motor met springstof naby ʼn besige mark opgeblaas het.

Dit is die dodelikste aanval op burgerlikes sedert 2001.

Talle winkels is vernietig, voertuie het omgeslaan en selfs die bas is van bome afgeruk.

Genl. Mohammad Zahir Azimi, woordvoerder vir die ministerie van verdediging, het gesê die aanvaller het die springstof laat ontplof toe hy verby die besige mark gery het.

Azimi het die dodetal bevestig en gesê meer as 40 mense is beseer. Die weermag het helikopters en ambulanse verskaf om die slagoffers na hospitale te neem.

Daar is geen weermagbasis in die omgewing nie en niemand het nog aanspreeklikheid aanvaar vir die aanval nie. Die Taliban het ʼn verklaring uitgereik waarin hy enige betrokkenheid ontken.

Twee passasiers is ure voor die ontploffing in Paktika, in Kabul dood toe ʼn sypaadjiebom ʼn minibus getref het. Sewe werknemers van die mediakantoor van die presidensiële paleis is in die voertuig vervoer. Die Taliban het aanspreeklikheid vir hierdie bom aanvaar.

Intussen is sewe polisiebeamptes en ses grenswagte in Khost oorlede toe lede van die Taliban ʼn grenspos op die grens van Pakistan aangeval het. Altesaam 34 rebelle en ʼn inwoner is dood in ʼn skietgeveg ná die aanval.

Twee polisiebeamptes is ook in Kandahar oorlede toe ʼn bom, wat op ʼn stilstaande motorfiets versteek was, ontplof het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.