89 sterf in oorstromings, talle nog vermis

‘n Lugfoto wys die gebied in Sentani in die Papua-provinsie in Indonesië wat oorstroom het [17 Maart 2019]. (Foto: AP Photo/Barce Rumkabu)

Die dodetal van die kitsoorstromings en modderstortings wat deur swaar reënval in die ooste van Indonesië veroorsaak is, het tot 89 gestyg.

Talle mense word steeds vermis.

Sutopo Purwo Nugroho, woordvoerder van die nasionale noodlenigingsagentskap, sê die ergste oorstromings is in die Sentani-subdistrik waar tonne modder, rotse en bome by ʼn berg af in ʼn rivier ingestroom het en daartoe gelei het dat die rivier oorstroom het en inwoners deur die massas water meegesleur is.

Nugroho het Dinsdag gesê 89 liggame is uit die modder en puin van meegesleurde huise getrek en 159 mense is beseer. Reddingswerkers soek tans na 74 mense wat vermis word.

Kol. Muhammad Aidi, militêre woordvoerder van die Papua-provinsie, het gesê meer as 1 600 reddingswerkers, insluitend polisiebeamptes en soldate, sukkel tans om die groot hope puin op te ruim weens ʼn tekort aan meganiese toerusting. “Ons sukkel om die puin te verwyder om by die liggame uit te kom, want ons het nie genoeg laaigrawe nie,” het Aidi gesê.

Intussen sê Nugroho ongeveer 7 000 inwoners is dakloos gelaat, meer as 400 huise en ander geboue is verwoes en duisende ander geboue is onder water.

Seisoenale reënval veroorsaak gereeld modderstortings en oorstromings in Indonesië waar miljoene mense in bergagtige gebiede of naby vrugbare vloedvlaktes woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.