900 werknemers in Zoom-oproep afgedank

‘n Skermskoot van die Zoom-oproep waartydens Vishal Garg personeel afdank. (Video: Twitter)

’n Amerikaanse werkgewer word fel gekritiseer nadat hy ongeveer 900 van sy personeel tydens ’n enkele video-oproep voor die feestyd afgedank het.

“As jy op hierdie oproep is, is jy deel van die ongelukkige groep wat afgedank word,” het Vishal Garg, uitvoerende hoof van die verbandfirma Better.com, tydens die Zoom-oproep gesê.

“Hierdie is nie nuus wat jy gaan wil hoor nie, maar dit was eindelik my besluit en ek wou hê jy moet dit by my hoor. Dit was regtig ’n baie uitdagende besluit. Hierdie is die tweede keer in my loopbaan wat ek dit doen en dit is nie iets wat ek wil doen nie.

“Die laaste keer wat ek dit gedoen het, het ek gehuil,” het Garg in die oproep van enkele minute gesê.

“Ek hoop om hierdie keer sterker te wees,” het hy voortgegaan voordat hy aangekondig het dat sowat 15% van Better.com se arbeidsmag afgelê word.

Garg het die afleggings aan personeelprestasie, produktiwiteit en markveranderinge toegeskryf. Hy het egter nie ’n woord gerep oor die reusekontantinspuiting van $750 miljoen (sowat R11 miljard) wat die firma verlede week van beleggers ontvang het nie.

“Jou diens word hiermee onmiddellik beëindig.”

Garg het voorts gesê afgelegde werknemers kan binnekort ’n e-pos van menslike hulpbronne verwag waarin hulle voordele en skeidingspakkette uiteengesit sal word.

’n Opname van die video-oproep is intussen op sosiale media gelaai waar dit as “ongevoelig”, “koud” en “’n aaklige skuif”, veral in die aanloop tot Kersfees, bestempel word.

“Om afdankings te moet doen, is ’n ellende, veral hierdie tyd van die jaar,” sê die firma se hoof‑ finansiële beampte, Kevin Ryan, in ’n verklaring. “Maar ’n streng begroting en ’n verminderde en gefokusde arbeidsmag [gaan nodig wees] om ’n radikaal ontwikkelende huiseienaarskapmark te betree.”

Die tydskrif Fortune het intussen berig dat Garg die afgelegde werknemers daarvan beskuldig dat hulle van hul kollegas en kliënte “steel” deur onproduktief te wees en net twee uur per dag te werk.

CNN Business berig Garg was al voorheen gekap oor ’n e-pos wat hy aan personeel gestuur het wat deur Forbes bekom is. Hy verwys in die e-pos na personeel as “dom dolfyne”. “Julle is te stadig. Hou onmiddellik op! Julle stel my in die verleentheid!” lui die e-pos.

Die Daily Beast het in Augustus berig dat een van Garg se “mees lojale” kamerade massiewe byvoordele ontvang het, onder andere miljoene dollars se aandele-opsies wat onmiddellik gebruik kan word. Dié persoon is later op administratiewe verlof geplaas vir afknouery.

Bykomende bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Chris ·

Ag siestog die arme mense. Ek is die 10 November 2021 nog in my probasie tyd “afgedank”. Ek is afgedank agv “nie voldoende kommunikasie” met die direkteure nie. My salaris is nie ten volle betaal nie, en die lys is langer. Staan op, skud jouself af en gaan voort.

VaalDonkie ·

En dan maak hy nogal of dit hom meer hartseer gaan maak as die arme drommels wat oor Kerstyd sonder ‘n inkomste gaan sit. Soos ek in 2019.

Misky ·

As hy so iets in SA probeer het, sou ons stakings en toi-toi hê soos min in die lewe!!!!

Mercia ·

Ongevoelig en Onproffesioneel. Nou kan mens maar net sit en kyk hoe daardie ou gesegde in vervulling kom:
” What goes around…….comes around” Só firma wat op híerdie manier besigheid doen, se bene moet in een vinnige swiep onder hulle uitgevat word.

Andries ·

Weereens ‘n bewys dat “base” ‘n veer voel vir hul ondergeskiktes. Die man is $4 biljoen sterk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.