
Giuseppe Paterno vang graad. (Foto: Twitter)
Giuseppe Paterno, ʼn 96-jarige Italianer, het die afgelope week vir die eerste keer graad gevang. Dié voormalige spoorwegwerker was reeds in sy 90’s toe hy ingeskryf het vir ʼn graadkursus in geskiedenis en filosofie aan die Universiteit van Palermo in Italië. Hy is die eerste persoon in Italië wat op dié hoë ouderdom ʼn graad ontvang.
Paterno was nog altyd lief vir boeke, maar het nooit die geleentheid gehad om te studeer nie, berig CNA. Toe hy wel die geleentheid kry, was sy onderwysers en medestudente ongeveer 70 jaar sy junior. “In 2017 het ek gedink, ‘dis nou of nooit nie’ en ingeskryf vir ʼn graadkursus,” het Paterno aan Reuters gesê. “Ek het besef dis ʼn bietjie laat om ʼn driejaargraad te kry, maar ek het vir myself gesê, ‘kom ons kyk of ek dit kan doen’.”
Paterno het in ʼn arm gesin in Sicilië grootgeword in die jare voor die Groot Depressie en het slegs basiese onderrig as kind ontvang. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het hy by die weermag aangesluit en later getrou en vir die spoorweg begin werk. Hy wou egter graag verder leer en het op die ouderdom van 31 hoërskool voltooi.
Paterno sê kennis is vir hom soos ʼn skat. Hy wil hom nou aan skryfwerk toewy.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
9 Kommentare
Wel wat kan mens sê. Wel gedaan. Groot prestasie. Nooit te oud om iets te probeer bereik nie.
Geluk ou! Daar is sekerlik nog hoop vir Jacob Zuma, of moet jy eers matriek kry voor jy kan aansoek doen by ‘n universiteit? Dit meen Jacob Zuma moet eers deur kleuter skool kom, en dan verder gaan! Sal ons dan eendag kan se Jacob Zuma vang graad op 96, uit die tronk uit?
Welgedaan, jy mag opreg trots wees op jouself
Wel gedaan! Laat niemand teen jou diskrimineer op grond van ouderdom nie.
Wow! Respek!