Aandag gevestig op kern-spitsberaad

Foto: AFP

Foto: AFP

Die oë van die wêreld is vandag op Den Haag, Nederland gerig waar die wêreld se vernaamste leiers saamtrek vir die derde kernspitsberaad.

Staatshoofde en regeringsleiers van altesaam 53 lande sal die beraad Maandag en Dinsdag bywoon. Onder die leiers wat reeds opgedaag het, of wat verwag word, is pres. Barack Obama van die VSA en Xi Jinping van China.

Baie streng veiligheidsmaatreëls geld, veral op die roete tussen die Schiphol-lughawe en Den Haag. Groot verkeersknope word verwag, ten spyte van spesiale treine en ander openbare vervoer wat gereël word. Verskeie betogings teen kernwapens en selfs kernkrag het reeds begin plaasgevind.

Nederland tree as voorsitter van die beraad op. In sy vooruitskouing het premier Mark Rutte gesê sy land sal sy bes doen om te help om van die wêreld ‘n veiliger plek te maak. Die beraad fokus veral op die wêreldwye vermindering van kernmateriaal wat vir kernwapens gebruik kan word, terwyl ook planne bedink word om te voorkom dat kernmateriaal in die hande van terroriste beland.

Nederland sal die beraad as ‘n sukses beskou as die uiteinde daarvan sal wees dat dit moeiliker sal wees vir kernmateriaal om in die verkeerde hande te beland.

Groot kommer bestaan ook oor die moontlikheid dat terroriste ‘n sogenaamde “vuil bom” sal kan vervaardig of bekom.

Hoewel al die doelwitte oor die beveiliging van kernwapens nog nie bereik is nie, is groot vordering reeds gemaak om “kwesbare” kernmateriaal van hoog-verryk tot laegraad te verswak. Hierdeur is dit nie meer geskik vir kernwapens nie, en minder aantreklik vir kwaadwilliges. Verskeie opleidingsentra is ook reeds ingerig waar personeel vir die beveiliging van uraan opgelei word. Verskeie lande het reeds hul verrykte uraan en plutonium na die lande van herkoms – Rusland en die VSA – teruggestuur. Japan het kort voor die aanvang van die beraad ook aangekondig dat dit sy verrykte uraan na die VSA gaan terugstuur.

Hoewel daar ‘n buitekans is dat hierdie beraad reeds ‘n finale ooreenkoms sal beklink soos wat Nederland hoop, lyk dit meer waarskynlik dat dit sal moet wag vir die beraad wat in 2016 in die VSA gehou word.

Bronne: Trouw, AD.nl

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.