Aanval by Ohio-universiteit dalk ‘n terreurdaad

Ohio State University (28 November 2016) Foto: @DispatchAlerts, Twitter

Ohio State University (28 November 2016) Foto: @DispatchAlerts, Twitter

Die polisie in Ohio, VSA, probeer bepaal of ʼn aanval Maandag by Ohio State University met terreur-aktiwiteit verbind kan word.

Inligting was Maandag skaars oor die aanval en die universiteit het sy studente slegs op sosiale media beveel om skuiling te vind. Maroela Media het vroeër berig minstens sewe persone is tydens die aanval beseer.

Owerhede het intussen bevestig die aanvaller, ʼn student aan die universiteit en oorspronklik van Somalië, het met sy motor deur ʼn groep voetgangers op die kampus gejaag, uitgeklim, en persone met ʼn mes begin steek voor ʼn polisiebeampte hom doodgeskiet het.

Volgens die jongste inligting is minstens 11 persone beseer, waarvan een kritiek.

Die aanvaller is uitgeken as Abdul Razak Ali Artan. Hy is in Somalië gebore en was ʼn wettige permanente Amerikaanse burger.

Die FBI het ook by die ondersoek aangesluit.

Dié besonderhede volg ná teenstrydige berigte en verwarring, nadat die universiteit in ʼn reeks plasings op Twitter gewaarsku het daar is ʼn “aktiewe skieter” op die kampus en studente moet “Run Hide Fight”. Die waarskuwing het glo gevolg ná die polisie se skietery.

Polisievoertuie en ambulanse is na die toneel ontbied en owerhede het van die strate afgesper. Die universiteit het ongeveer 60 000 studente. Studente het hulself binne kantore en klaskamers toegesluit en die deure met stoele en tafels versper voordat hulle ʼn halfuur later bevestiging ontvang het dat die toneel beveilig is.

Craig Stone, polisiehoof van Ohio, het gesê die aanvaller het doelbewus met sy klein Honda oor ʼn sypaadjie buite ʼn ingenieursklas-gebou gery en daarna studente met ʼn mes aangeval.

ʼn Beampte van kampussekuriteit was, danksy ʼn gaslekkasie, naby aan die toneel en het vinnig reageer en die aanvaller doodgeskiet. Meeste van die slagoffers is beseer toe die motor hulle getref het, en minstens twee het messteekwonde opgedoen.

Federale wetstoepassers het in die afgelope paar maande hul kommer uitgespreek oor aanlyn ekstremiste-propaganda wat mes- en motoraanvalle aanmoedig, omdat dit makliker is as bomaanvalle.

Bure het gesê Artan was altyd vriendelik en het daagliks biddienste by ʼn moskee bygewoon. Die FBI was nie van hom bewus voor Maandag se aanval nie, volgens ʼn beampte wat op voorwaarde van anonimiteit, met Associated Press gepraat het.

Leiers van Moslem-organisasies en moskees in die Columbus-gebied het Maandag se aanval veroordeel en hulle het persone gewaarsku om nie vinnige gevolgtrekkings te maak of ʼn geloof te beskuldig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

jaco ·

toe ek gister kommentaar geplaas het dat dit seker n moslem-terreuraanval is, is my kommentaar nie geplaas nie…

jaco ·

Waarom gaan bly moslems in n land waar daar honderde goed aanvaarbaar is wat in hulle geloof sonde is? In Amerika is die eet van varkvleis en homoseksualiteit aanvaarbaar. In moslemlande is dit strafbaar met die dood. As jy dus weet jy gaan nie by so n samelewing inpas nie, BLY DAN WEG eerder as wat jy die hele tyd toenemend bitter raak oor al die sonde rondom jou en uiteindelik mense oor nonsens vermoor.

peanut ·

Jy was polities inkorrek ;-)
Haha :-0
die wêreld is besig om vinnig heeltemal oor die afgrond te steier

jaco ·

Waarom vestig moslems hulle in n land met honderde dinge wat daar algemeen aanvaarbaar is, maar onwettig en sonde en dikwels strafbaar met die dood in moslemlande? En noem net 2 voorbeelde: homoseksualiteit en die eet van varkvleis. Dis albei grootliks aanvaarbaar in Amerika, Maar taboe in moslemlande . Dis regtig vreemd dat moslems na lande verhuis waar dit wat vir hulle sonde is, algemeen toegepas word. En dan het hulle ook nog die voorbarigheid om dié Amerikaners wat al hierdie sondes doen, sommer uit die bloute daarvoor te straf met n masjiengeweer

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.