Aanval op Iranse bevelvoerder ontlok wye reaksie

Genl. Qassem Soleimani (Foto: ANA)

“Terwyl Iran dit nooit behoorlik sal kan erken nie, is Soleimani in dié land gehaat en gevrees.”

Só het die Amerikaanse pres. Donald Trump Vrydagmiddag in reaksie op genl. Qassem Soleimani se dood vroeër vandag gedurende ’n Amerikaanse lugaanval op Irak gesê.

Trump het sy stilte op Twitter verbreek nadat hy enkele ure ná die aanval bloot ’n foto van ’n Amerikaanse vlag getwiet het.

“Genl. Qassem Soleimani het duisende Amerikaners oor ’n lang tydperk vermoor of gewond gelaat en was van plan om talle meer dood te maak … maar is gevang! Hy was direk en indirek verantwoordelik vir die dood van miljoene mense, onder wie die onlangse groot aantal betogers wat in Iran self doodgemaak is,” lui die president se nuwe inskrywings.

“Terwyl Iran dit nooit behoorlik sal kan erken nie, is Soleimani in die land gehaat en gevrees. Hulle is nie naastenby so hartseer soos wat die leiers die buitewêreld sal laat glo nie. Hy moes baie jare gelede al uitgewis gewees het.”

Benjamin Netanyahu, die premier van Israel, het ná die aanval gesê Trump verdien die lof wat hom toekom rakende die onlangse aanval. “Pres. Donald Trump verdien al die erkenning daarvoor dat hy vinnig, kragtig en beslissend opgetree het. Israel staan saam met die Verenigde State in sy regverdige stryd om vrede, veiligheid en selfverdediging. Qassem Soleimani is verantwoordelik vir die dood van Amerikaanse burgers en baie ander onskuldige mense. Hy het nog meer sulke aanvalle beplan,” het Netanyahu gesê.

‘n Roubeklaer Vrydag in Tehran in Iran nadat Soleimani vermoor is. (Foto: Vahid Salemi, AP)

Javad Zarif, Iran se minister van buitelandse sake, het egter sy misnoeë met die Amerikaanse president uitgespreek.

“Amerika se optrede van internasionale terrorisme deur genl. Soleimani te teiken en te vermoor is uiters gevaarlik en ’n dwase stap,” meen Zarif op Twitter.

Mohammed al-Halbousi, Irak se parlementêre speaker, het intussen gesê die gevolge van die aanval bedreig die stabiliteit van dié land waar die aanval plaasgevind het.

Maroela Media het vroeër berig Soleimani het vanoggend saam met ander Iranse militante in ’n lugaanval op Bagdad se internasionale lughawe omgekom.

Luidens ’n verklaring deur die Pentagon het Soleimani oor die afgelope paar maande aanvalle op koalisiebasisse beplan, asook aanvalle op die Amerikaanse ambassade in Bagdad vroeër die week goedgekeur.

“Die aanval [op die lughawe] was daarop gemik om Iran se toekomstige aanvalsplanne te fnuik,” het die Pentagon verduidelik.

Iran het reeds gedreig om wraak teen Amerika te neem. Wêreldoliepryse het ná die aanval met meer as 4% gestyg en tientalle Amerikaanse burgers wat vir buitelandse oliemaatskappye in Irak werk, het aangedui dat hulle die land gaan verlaat, berig BBC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.