Aanvaller dood ná mesaanval in Frankryk

‘n Reddingswerker loop in die park waar die aanval plaasgevind het. (Foto: Michel Euler, AP)

Een persoon is dood en twee ander ernstig beseer in ’n mesaanval in ’n voorstad van Parys in Frankryk. Die aanvaller is ná die voorval deur die Franse polisie doodgeskiet.

BBC berig dat ʼn 22-jarige man, wat geïdentifiseer is as Nathan C, Vrydagmiddag omstreeks 14:00 (plaaslike tyd) verskeie mense in Hautes-Bruyèrespark in Villejuif, sowat 8 km suid van die stad, met ’n mes bygedam het.

’n Voorlopige ondersoek dui daarop dat hy sy slagoffers lukraak gekies het.

’n 56-jarige man het in die aanval omgekom. Hy en sy vrou het in die park gestap toe hulle aangeval is.

Franck le Bohellec, burgemeester van Villejuif, het gesê die man is dood nadat hy sy vrou teen die aanvaller probeer beskerm het. Sy is in die aanval in haar nek gesteek en is tans in ’n kritieke toestand in ’n hospitaal.

Polisiebeampte staan by die ingang van die park.(Foto: Michel Euler, AP)

The Telegraph berig die polisie voer aan dat hulle die aanvaller doodgeskiet het uit vrees dat hy moontlik ’n selfmoordgordel gedra het. Daar is later egter geen plofstof aan sy liggaam gevind nie.

Loïc Travers, ʼn polisiewoordvoerder, het gesê dit is nie in dié stadium moontlik om te sê of dit ʼn terreuraanval was nie.

Volgens plaaslike bronne het die aanvaller ’n geskiedenis van geestesversteuring.

Die Franse president Emmanuel Macron het sy medelye met die slagoffers betoon. “Ek gee my steun aan die slagoffers van die aanval, hul gesinne en die polisie. Ons strewe is beslis teen onoordeelkundige geweld en vir die veiligheid van alle Franse mense,” het Macron in ’n verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae