Aappokke in nog lande aangemeld

(Argieffoto: Pixabay)

In die jongste uitbreking van aappokke het nog lande gevalle van hierdie virussiekte aangemeld. Mexiko, Argentinië en Ierland is onder die lande wat nou hul eerste gevalle bevestig het.

Meer as 240 gevalle van aappokke is reeds in talle lande, waaronder verskeie Europese lande, Israel, VSA, Kanada en Australië, aangemeld. Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het egter vroeër gesê dat hy nie voorsien dat die virussiekte endemies in Suid-Afrika sal word nie, maar dat hy nietemin voorbereid is sou die siekte op tuisbodem uitbreek.

Gesondheidsbeamptes in Mexiko het Saterdag die land se eerste bekende geval van aappokke by ʼn 50-jarige Amerikaanse inwoner bevestig. Hierdie man word nou in Mexiko behandel.

Die man, wat ʼn permanente inwoner van New York is, “het waarskynlik die virus in Nederland opgedoen,” het Hugo Lopez-Gatell, ʼn ondersekretaris van gesondheid, op Twitter gesê.

“Gelukkig is hy stabiel en in isolasie. Ons glo hy sal sonder komplikasies herstel,” het hy gesê.

Owerhede in Argentinië het Vrydag sy eerste twee bekende gevalle van die siekte bevestig – ʼn 40-jarige man wat van Spanje na Argentinië teruggekeer het en ʼn Spanjaard wat Buenos Aires besoek het. Spanje het tans byna 60 aktiewe gevalle van hierdie virussiekte.

Volgens die land se ministerie van gesondheid hou die twee gevalle in Argentinië glo nie verband met mekaar nie.

Die eerste pasiënt het wel swere, maar geen ander simptome nie. Dit is nie duidelik of die tweede pasiënt enige simptome vertoon nie.

Ierland het ook Vrydag sy eerste geval aangemeld, maar bygevoeg dat dit nie onverwags is nie “weens die teenwoordigheid van aappokke in Brittanje en ander Europese lande,” berig The Guardian.

“Gesondheidsowerhede volg nou op met diegene wat in noue kontak met die persoon was, maar ten einde die pasiënt se identiteit te beskerm sal geen verdere inligting hieroor verskaf word nie,” het die land se nasionale openbare gesondheidsdiens gesê.

“ʼn Vermeende geval word tans ondersoek en ons wag nog op die toetsuitslag.”

Die Britse gesondheidsveiligheidsagentskap het Vrydag bekendgemaak dat ʼn verdere 16 gevalle van aappokke in Engeland geïdentifiseer is, wat die totale infeksies hier tot 101 opstoot. Tot op hede is drie gevalle in Skotland geïdentifiseer en een elk in Wallis en Noord-Ierland.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het vroeër gesê dat die risiko dat aappokke wyd sal versprei onder die algemene bevolking waar die virus nie endemies is nie, uiters skraal is. Aappokke kom die algemeenste voor in afgeleë dele van Sentraal- en Wes-Afrika.

Die Europese Unie (EU) het intussen daaraan begin werk om entstowwe teen hierdie virus te sentraliseer. ʼn Inenting teen aappokke bestaan reeds, maar word nie op grootskaal vervaardig nie weens die relatief lae aantal gevalle wat jaarliks aangemeld word.

“Inenting teen aappokke sal slegs tot baie spesifieke gevalle beperk word,” het die EU bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Christine ·

Genade, wat nog… Die Bybel voorspel peste in die Laaste Dae. Dis hier.

Papsak ·

Wonder wat gaan nog op duik want ons word bang gemaak op alle bes maniere klomp korrupte regering gemors en president

VaalDonkie ·

Ou Bill Gates en sy trawante is besig ne! Hy’t mos al in 2019 “voorspel” ons gaan ‘n pokke-uitbraak sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.