Aardbewing dreig ná vulkaniese uitbarsting in DRK

Inwoners vrees dat die vulkaan dalk vir ʼn tweede keer kan uitbars (Foto: Moses Sawasawa, AFP)

Byna drie dae nadat ʼn vulkaan in die Demokratiese Republiek van die Kongo uitgebars en lawa van die nabygeleë Nyiragongo tot by Goma-stad gevloei het, het aardskuddings inwoners die skrik op die lyf gejaag. Inwoners vrees dat die vulkaan dalk vir ʼn tweede keer kan uitbars.

Twee groot aardskeure is Dinsdag op die grond in die stad Goma, wat byna 1,5 miljoen inwoners het, gewaar. Dié skeure, wat plek-plek tot enkele honderd meter en ʼn paar dosyn sentimeter breed is, het gevorm toe die stad deur die aardbewing weens die uitbarsting van die vulkaan getref is.

Die langer skeur loop vanaf berg Goma, in die noorde van die stad, tot by die hoofhospitaal en die oewer van die Kivu-meer. Die korter skeur, ongeveer 100 m lank, het naby die lughawe in Goma aan die noordoostelike kant van die stad, op die hoofweg van Goma na Butembo, te voorskyn gekom.

Byna 5 000 mense is dakloos gelaat nadat ʼn vulkaan in die Demokratiese Republiek van die Kongo uitgebars het (Foto: Moses Sawasawa, AFP)

ʼn Gebou van drie verdiepings het gedeeltelik ineengestort onder die aardskudding, wat elke 10 tot 15 minute plaasgevind het. Minstens sewe mense is ernstig beseer toe dié gebou ineengestort het.

Talle inwoners slaap buitekant onder muskietnette omdat hulle vrees dat hul huise gaan ineenstort.

Die Rwanda- seismiese monitor het by ʼn nabygeleë grens aardbewings met ʼn sterkte van 5,3 en 4,6 geregistreer.

Byna 2 500 huise is tydens die vulkaanuitbarsting verwoes (Foto: Moses Sawasawa, AFP)

Talle inwoners van Goma het Saterdagaand gevlug toe die vulkaan uitgebars het en inwoners is bekommerd dat daar ʼn verdere uitbarsting sal wees. Die inwoners sê hulle ontvang ook geen inligting vanaf owerhede nie.

Byna 5 000 mense is dakloos gelaat en byna 2 500 huise is tydens die uitbarsting verwoes. Die dodetal het tot 32 mense gestyg.

Vyf mense is Maandag weens versmoring dood nadat hulle die afgekoelde lawa, ongeveer 13 km noord van Goma, probeer oorsteek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.