Aardbewing eis al byna 12 000

Reddingswerkers soek na oorlewendes in Harim, Sirië. (Foto: Omar HAJ KADOUR / AFP)

Die dodetal ná die verwoestende aardbewings in Turkye en Sirië het Woensdag vroegaand tot meer as 11 700 gestyg.

Dit is meer as twee dae en twee nagte ná die aardbewing en reddingswerkers spook stééds in die snerpende koue om oorlewendes van onder die puin te bevry.

Amptenare en medici sê 9 057 mense het tot dusver in Turkye omgekom en 2 662 in Sirië weens Maandag se skudding van 7,8. Dít bring die dodetal op 11 719 te staan. Daar word intussen verwag dat die dodetal nóg verder sal styg.

Die Turkse president, Recep Tayyip Erdogan, het vandag Kahramanmaras besoek waar die grootste verwoesting plaasgevind het. Erdogan het tydens die besoek ontken dat sy regering traag was om op die tragedie te reageer.

“Daar was aanvanklik probleme by die lughawens en op die paaie, maar vandag raak dinge makliker en môre sal dit nog makliker wees,” het die president gesê.

Kerem Kinik, hoof van die Turkish Red Crescent, waarsku egter dat die eerste 72 uur kritiek is gedurende soek- en reddingspogings. Hy wys ook daarop dat “ernstige weerstoestande” die reddingsoperasies bemoeilik.

Turkse nooddienswerkers het egter Woensdag kinders gered wat onder ʼn ineengestorte gebou in die Turkse provinsie Hatay vasgekeer was.

“Ons het ewe skielik stemme gehoor,” vertel die reddingswerker Alperen Cetinkaya. “Ons verwag meer van hulle … die kanse om mense lewend hier uit te kry is baie groot,” het hy bygevoeg.

Tedros Adhanom Ghebreyesus, hoof van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), het egter op sy beurt gewaarsku dat die tyd min raak vir die duisende beseerdes en diegene wat steeds onder die puin vasgekeer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gert ·

Dit is baie hartseer. Ek self is hier op n skip waar ons besig is met explorasie op die swart see in Istanbul. Van my mede werkers se families is vasgekeer en van hulle families heeltemal uitgewis. Die “Crew Change” helikopters kan nie vlieg weens die gure weer nie en hul is selfs telefonies in verbinding met van hul friende en familie wat nog onder die puin vasgevang is. Daar is geboue wat nog geen aandag geniet met redingswerk nie omdat die skaal van die ramp so groot is en hande net te min. Die koue en sneeu, sowel as geen water om te drink raak nou die groot sekondere oorsaak van sterftes na die verwoestende aardbewing.

Marcello ·

Dankie dat jy dit met ons ander lesers gedeel het, dit is bitter hartseer.

Hendrik ·

Die beweging van die tetoniese plate is maar ‘n natuurlike meganiese aksie van ‘n planeet met ‘n lewende kern. Die plate weet nie van mense wat daarop bly nie. Dinge gebeur op ‘n planeet wat in die ruimte in ‘n wentelbaan is. Wat wel waar is dat jy met die Here moet lewe want enige iets kan gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.