Reddingswerkers het Saterdag deur die puin van ineengestorte geboue in die Turkse stad Izmir na oorlewendes gesoek ná die aardbewing wat vroeër die naweek in die Egeïese See naby Turkye en noord van die Griekse eiland Samos voorgekom het.
Die dodetal het tot 28 gestyg. Altesaam 26 mense het in Turkye gesterf terwyl twee tieners op Samos omgekom het.
Tunc Soyer, burgemeester van Izmir, sê 180 mense is in dié stadium vermoedelik nog onder die puin van ineengestorte geboue in dié stad vasgekeer.
’n Ma en drie van haar kinders was sowat 18 ure lank onder die puin van ’n gebou vasgekeer voordat hulle bevry kon word. Reddingswerkers spook egter in dié stadium nog om haar vierde kind te bevry.
Soektogte na oorlewendes is teen vanmiddag in agt geboue voltooi. Daar is nege ander geboue wat egter nog gefynkam word vir enige moontlike oorlewendes.
Murat Kurum, die Turkse minister van omgewing, sê sowat 100 mense is tot dusver gered.
Turkye se ramp- en noodbestuuragentskap (Afad) het die aardbewing op 6,6 gemeet terwyl die Amerikaanse Geologiese Opname (USGS) die aardbewing op 7,0 geregistreer het.
Maroela Media het vroeër berig die kern van die aardbewing was sowat 17 km van die stad Izmir en kon in Turkye, die Griekse eilande tot so ver as Istanboel en Athene gevoel word.
Die aardbewing het tot hoë golwe gelei en het oorstromings aan dele van die Turkse kus tot gevolg gehad met sprake van ’n “klein tsoenami”.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
3 Kommentare
Mmm… Soos ek gesê het op die ander berig, Openbaring het reeds begin.
Jammer vir die mense,Hoop die reders slaag en red nog n paar lewens.
Lelike dinge gebeur in hierdie wereld, dit laat mens wonder of God nie met ons almal praat en se vir te lank het die mens god probeer speel dis tyd dat die wereld op ons kniee kom en bid, want op die oomblik doen ons die teenoorgestelde van wat die bybel ons se om te doen… WERELD DRAAI TERUG!!!!