Aardbewing in Australië lei tot paniek

‘n Gebou in die gewilde Chappelstraat in Melbourne is in die aardbewing beskadig. (Foto: William WEST/AFP)

Australiërs het Woensdag ’n seldsame gebeurtenis beleef toe die suidoostelike dele van die land deur ’n aardbewing getref is.

Die aardbewing het omstreeks 09:00 Woensdag (Aus tyd) oos van Melbourne plaasgevind en is honderde kilometer ver gevoel. Die skudding het tot paniek gelei met geboue wat geskud en mure wat omgeval het.

Die skudding van 5,9 het op ’n diepte van 10 km plaasgevind naby Mansfield in die staat Victoria. Melbourne is tans in die agtste week van ’n inperking en die meeste mense was tuis toe die aardbewing plaasgevind het.

Groot aardbewings is ongewoon in Australië. “Dit was die grootste gebeurtenis in ’n lang tyd in die suidooste van Australië,” het Mike Sandiford, ’n geoloog aan die Universiteit van Melbourne, aan AFP gesê.

“Ons het aan die einde van die 1800’s ’n paar groot aardbewings van 6 of meer gehad. ’n Aardbewing van die omvang word elke 10 tot 20 jaar in die suidooste van Australië verwag. Die laaste groot aardbewing was in Thorpdale in 2012.”

Volgens Geoscience Australië is die aanvanklike aardbewing gevolg deur ’n reeks van vier kleiner skuddings van tussen 2,5 tot 4,1.

Sandiford het gesê honderde naskokke kan volg met sowat ’n dosyn daarvan wat moontlik gevoel sal kan word. Volgens Sandiford sou Woensdag se aardbewing miljarde dollar se skade aangerig het indien dit onder Melbourne plaasgevind het.

Die nooddienste het oproepe ontvang van inwoners so ver as Dubbo, wat sowat 700 km weg is van waar die aardbewing plaasgevind het.

Scott Morrison, premier van Australië, het uit New York gesê daar was geen aanvanklike berigte van beserings nie.

“’n Aardbewing van hierdie omvang kan ’n baie, baie ontstellende gebeurtenis wees,” het hy gesê. “Dit is ʼn uiters seldsame gebeurtenis in Australië.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
PersHeks

Die aarde val in mekaar in!!! Siklone, aardskuddings, brande, uitbarstings … en nog steeds luister ons nie!!

JohanR

Was die aardskudding nie Saterdag toe dieAussies ons 30-17 verslaan het nie, en sal weer die naweek gebeur waaneer die All Blacks ons 45-12 verslaan!

piet

As dit in NZ gebeur het, het Ardern die hele land vir 3 jaar ingehok.

KB

Die aardkors in die hele streek ten ooste van NZ (in die suide) tot by Alaska (in die noorde) is onstabiel. Dit kos nie ‘n Einstein om dit raak te sien nie, net iemand met ‘n goeie geheue.

Pampoen

My Ma het gesê: Die Aarde het krake in en hy wobble om sy as en dan wil julle nog baklei om elkeen ‘n stukkie te kry.