Aardbewing in Griekeland beskadig skole, huise

Mense bondel saam in die stad Larissa ná ‘n aardbewing dié stad Woensdagmiddag getref het (Foto: Kostas Mantziaris, AFP)

ʼn Groot aardbewing het Woensdag die sentrale en noordelike gebiede van Griekeland getref en verskeie naskokke het nog lank ná die aardbewing voorgekom.

Volgens die Amerikaanse Geologiese Opname-sentrum het die aardbewing ’n sterkte van 6,3 gehad. Die instituut vir geodinamika in Athene het egter vroeër gesê die aardbewing het ʼn sterkte van 6,0 gehad.

Die aardbewing het omstreeks 12:16 plaasgevind en huise, skole en infrastruktuur is beskadig. Geen sterftes of beserings is tot dusver aangemeld nie, maar owerhede het gewaarsku dat “beduidende naskokke” nog kan voorkom. Van dié naskokke het soveel as 5,7 gemeet.

“Alles het baie vinnig gebeur. Mense het uit geboue gehardloop. Ons voel steeds van die naskokke,” het Chrissoula Katsiouli, ʼn personeellid by die burgemeesterskantoor in die dorp Elassona, ʼn dorp in die sentrale deel van Griekeland, gesê.

“Ons is verbysterd. Dit was angswekkend,” het Vassilis Boussia, ’n inwoner van Elassona gesê.

Volgens die sterrewag in Athene was die episentrum van die aardbewing 16 kilometer suid van dié dorp. Die aardbewing het ook ’n diepte van 8 km bereik.

’n Huis en skool is in die dorp Tyrnavos is erg beskadig. Die onderwysers kon egter daarin slaag om die kinders betyds uit die skoolgebou te kry en niemand is beseer nie. Die polisie het ook in dié dorp ʼn brug, wat deur die aardbewing beskadig is, vir die publiek afgesper.

’n Gestremde man wat in sy huis in die dorp Mesochori vasgekeer was, is ook betyds gered. Die man se huis se mure het heeltemal ineengestort. Die kloktoring van ʼn kerk en ’n skoolgebou in die nedersetting Damasi is ook beskadig.

Die agentskap vir burgerlike beskerming het berig dat grondverskuiwings in die streek wat deur die aardbewing getref is, plaasgevind het.

Die laaste groot aardbewing in hierdie spesifieke gebied het in die 18de eeu voorgekom en het  6,2 op die momentmagnitudeskaal gemeet. ʼn Aardbewings met ʼn strekte van 7,0 het wel die Egeïese See, tussen die Griekse eiland Samos en die stad Izmir in Turkye, in Oktober getref. Turkye het die grootste skade gely. Hier is altesaam 114 mense dood en meer as 1 000 beseer.

Griekeland word sporadies deur aardbewings getref weens sy ligging op die tektoniese plate. Die aardbewings vind dikwels in die see plaas en veroorsaak selde groot skade.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.