Aardbewing in Spanje laat Madrid skarrel

Argieffoto.

Argieffoto.

Werkers in die Spaanse hoofstad, Madrid, het verskrik uit geboue gestroom toe ’n aardbewing van 5 op die Momentmagnitudeskaal sowat 175 kilometer suidoos daarvandaan voorgekom het.

Die episentrum was in ’n ylbevolkte deel van die land, naby die dorp Ossa de Montiel.

Geen berigte van beserings of ernstige skade is aangemeld nie.

Spanje, weens die baie ou en historiese geboue, is bekend daarvoor dat selfs ’n ligte aardbewing tot lewensverlies kan lei. In 2011 is nege mense dood en bykans 300 beseer toe ’n aardbewing van M5,1 in die omgewing van Lorca voorgekom het.

Die aardbewing in Spanje was egter nie die sterkste die afgelope 24 uur ter wêreld nie. ‘n Aardbewing van M5,2 het in die see net noord van Nieu-Seeland voorgekom. ’n Aardbewing van M5,4 het 111 km van Miyako in Japan voorgekom, en so ook een in die noorde van Chili.

Die jaar 2015 bly egter steeds, soos 2014, ’n betreklike stil jaar vir groot aardbewings. Slegs een aardbewing van M7 of meer het vanjaar ter wêreld voorgekom toe een van M7,1 op Vrydag, 13 Februarie, op die Mid-Atlantiese rif tussen Europa, Noord-Amerika, Groenland en Ysland voorgekom het. Geen tsunami-waarskuwing is egter daarvoor uitgereik nie. Dit was die eerste aardbewing sedert 15 November 2014.

’n Tsunami-waarskuwing is wel op 16 Februarie vir die noorde van Japan uitgereik toe ‘n aardbewing van M6,7 in die see ook naby Miyako voorgekom het. Die see het egter net met enkele sentimeter gestyg.

Bronne: USGS, ABC News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.