Aardbewing: Pasgebore baba uit puin gered

Die pasgebore baba is die enigste oorlewende van haar onmiddellike gesin (Foto: Rami al Sayed/AFP)

Die familie van ʼn pasgebore baba het haar lewend uit die puin van ʼn huis in noordelike Sirië gered. Sy was nog steeds met die naelstring aan haar ma verbind, wat in Maandag se groot aardbewing oorlede is, het ʼn lid van die familie gesê.

Die baba is die enigste oorlewende van haar onmiddellike gesin. Die res is almal dood toe Sirië en naburige Turkye deur ʼn aardbewing van 7.8 getref is. Die gesin se huis is verwoes in die rebellebeheerde dorp Jindayris, het Khalil al-Suwadi gesê.

“Ons het ʼn stem gehoor terwyl ons gegrawe het,” het Suwadi Dinsdag aan AFP gesê. “Ons het die baba met die naelstring gevind, so ons het dit geknip en haar na die hospitaal geneem.”

Video van die redding het wyd op sosiale media versprei. Die beeldmateriaal wys hoe ʼn man van die puin van ʼn vierverdiepinggebou weghardloop met ʼn klein baba in sy arms.

ʼn Tweede man hardloop na hom toe met ʼn kombers om die babatjie warm te hou in sub-zero temperature. ʼn Derde roep vir ʼn motor om haar na ʼn hospitaal te neem.

Die baba is na ʼn hospitaal in Afrin geneem terwyl die res van die familie oor die volgende paar uur die liggame van haar pa Abdullah, ma Afraa, vier sibbe en ʼn tannie uit die puin gehaal het.

Hulle liggame is op die vloer van ʼn nabygeleë familielid se huis laat lê voor ʼn gesamentlike begrafnis Dinsdag gehou is.

Suwadi sê Abdulla is sy neef en hy is met sy suster getroud.

Aardbewing-slagoffers op soek na familielede in Hatay, ʼn dag ná die aardbewing van 7.8 Sirië en Turkye getref het. (Foto: Bulent Kilic/AFP)

Die huis is een van 50 in Jindayris wat deur die aardbewing verwoes is, het ʼn AFP-korrespondent berig.

Reg oor Sirië is meer as 1 600 mense dood, bykomend tot die meer as 3 400 wat in Turkye oorlede is, het owerhede gesê.

Sowat 800 mense is in rebellebeheerde dorpe en stede oorlede.

Die baba is in Afrin op ʼn drup geplaas. Haar lyfie het beserings opgedoen en ʼn verband is om haar linkergewrig gedraai. Haar voorkop en vingers was nog blou van die snerpende koue terwyl pediater Hani Maarouf haar gemonitor het.

“Sy is nou stabiel,” het Maarouf gesê, maar bygevoeg sy het in ʼn slegte toestand by die hospitaal aangekom. “Sy het verskeie kneusplekke en snyplekke reg oor haar lyfie opgedoen. Sy het ook verkluiming opgedoen. Ons moes haar liggaamstemperatuur verhoog en kalsium toedien.”

Jindayris is in 2018 deur Turkse en Siriese rebelle beset. Koerdiese magte is uit die Afrin-streek verdryf. Die streek maak staat op hulp van Turkye en het nie die kennis of mannekrag om self ʼn doeltreffende noodreddingsreaksie van stapel te stuur nie.

Met Turkse nieregeringsorganisasies wat oor die grens nog besig is met reddingspogings, is die soeke na oorlewendes in Siriese dorpe soos Jindayris vertraag.

Volgens die White Helmets-reddingsgroep, wat in rebellegebiede in Sirië aktief is, is meer as 210 geboue in dié gebiede verwoes. Sowat 520 is gedeeltelik verwoes en duisende is beskadig.

“Ons doen ʼn beroep op alle humanitêre organisasies en internasionale liggame om ondersteuning en hulp te verskaf,” het die White Helmets op Twitter gesê. “Daar is baie min tyd oor. Honderde is nog onder die puin vasgekeer. Elke sekonde kan ʼn lewe beteken.”

Maroela Media het vroeër berig oor Suid-Afrikaners wat ook in die aardbewing was. Klik hier om meer te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Blom ·

En dan glo die wereld nie meer in wonderwerke nie!! Ek hoop die klein lyfie herstel volkome.

Marcello ·

Watter wonderlike storie van oorlewing, ek stem saam, wonderwerke bestaan defnitief. My dogter was meegedeel deur Medisie, dan sy sal nooit ‘n kinders kon hê nie, en sy het 2 wonderwerkies vandag.

LANA is ELANè ·

Genade dit is so hartseer. Wat kan nog skeef loop in Sirië? Ek hoop godvresende mense neem die babatjie aan en maak haar groot as teken aan ñ wêreld oor hoe sterk die wil om te lewe kan wees, ongeag die omstandighede waarin jy jouself bevind.

Vonny ·

Die WÈRELD MOET terug draai na God.
God is n God van Wonderwerke !

Veronika ·

Dis ongelooflik!! Maar hierdie nasies met hul rebellebeheerde………kyk wat het gebeur dalk jul oge oopmaak en die boodskap sien wat vir jul gestuur word met hierdie ramp…………

Sandra ·

Nee wat kleinding, dit was nie jou tyd nie. God het iets anders in gedagte vir jou lewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.