Aardbewing tref NS ná sikloon chaos saai

Wellington, Nieu-Seeland. (Foto: Unsplash)

Kort nadat ’n sikloon die lewens van minstens vier mense in Nieu-Seeland geëis het, is die land se hoofstad, Wellington, deur ʼn aardbewing van 6,1 getref.

Die NZ Herald berig die aardbewing het Woensdag met ʼn geruk begin en is deur minstens 30 sekondes van matige skudding gevolg.

GeoNet sê die aardbewing het om 19:38 Nieu-Seelandse tyd ongeveer 50 km noordwes van Paraparaumu op ʼn diepte van 48 km plaasgevind. Die agentskap het die aardbewing as sterk geklassifiseer.

Meer as 60 000 Kiwi’s – sommige sover as Auckland en Christchurch – het die skudding gevoel. “Dit het gevoel soos ʼn goederetrein wat verby ons huis gejaag het,” vertel ’n Nieu-Seelander wat in Raumati Beach, sowat 60 km noordwes van Wellington, woon.

Dit lyk egter nie in hierdie stadium of die aardbewing enige skade aangerig het nie. Daar is ook geen tsoenami-waarskuwing uitgereik nie.

Minstens een vlug van Auckland se landing in Wellington is egter weens die aardbewing vertraag.

“Asof ʼn sikloon nie genoeg is nie, is Wellington nou deur ʼn kragtige aardbewing getref,” het die vlieënier aan passasiers gesê.

Die aanloopbaan moes vir moontlike skade nagegaan word voor die vliegtuig kon land. Die vlug het daarna veilig geland.

Die Wellington-streek se noodbestuurskantoor sê inwoners kan naskokke verwag.

“Dit is reeds ʼn baie stresvolle tyd vir mense –  sien om na jouself en die mense om jou,” het die burgerlike verdedigingsagentskap in Nieu-Seeland gesê in die lig van die sikloon én aardbewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Truman Burbank ·

Of aan die begin. Hang af van watse kant jy af kom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.