Aardbewing weens ‘skaliegasontginning’ rig groot skade aan

Foto: Kevin Stump/Twitter

Foto: Kevin Stump/Twitter

ʼn Aardbewing het groot skade in Cushing, in die Amerikaanse deelstaat Oklahoma, aangerig.

Verskeie geboue het ineengestort, maar geen lewensverlies is sover aangemeld nie. Die aardbewing van 5 het 2 km van Cushing af en 80 km van Oklahoma City voorgekom, met die episentrum net 5 km onder die oppervlak.

Skole in Cushing is vir die dag gesluit, terwyl ouetehuise ontruim is. Volgens die Amerikaanse Seismologiese en Geologiese Opnamesentrum (USGS) was daar die afgelope week minstens 19 aardskuddings in Oklahoma.

Op 2 November het nog ʼn ongewoon sterk aardbewing vir die omgewing naby Pawnee voorgekom.

Die sterkste aardbewing wat nog tydens die “swerm” gemeet is, was op 4 September 2016, net 2,2 kilometer van Pawnee af. Dit is later deur die USGS tot 5,8 opgegradeer.

Oklahoma en van sy buurstate word die afgelope aantal jare deur ʼn “swerm” aardbewings geteister, wat volgens wetenskaplikes verband hou met olie- en skaliegasontginningspraktyke in die omgewing. Dit is gewoonlik baie ligte aardbewings, wat gereeld verskeie kere per dag voorkom. Die afgelope jaar was daar reeds 2 200 aardbewings in Oklahoma.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

PW Growee ·

Dit is presies waarom Fracking uit Suid-Afrika uitgehou moet word!

E.K. ·

PW stem 100% saam, maar ons weet mos geld praat die hardste en die regering sien net $ signs en gee niks om vir omgewing, water of mense daar in die Karoo nie.

Johannes ·

Die deler is so goed soos die steler se die gesegde. Mense is traag om alternatiewe vervoer te koop en ongelukkig sterk hul die olie maatskappye in hul kwaad. Mense kyk jou snaaks aan as hulle hoor jy ry ‘n prius, of ‘n leaf. Die gesindheid is besig om te verander met motors soos die Tesla en Chevy Volt. Maar in SA word jy as “gay” gestempel as jy sulke goed ry. Solank mense se houdings pro diesel en pro petrol is, sal niks verander nie.

Vaalseun ·

Wat skaliegas ontginning so gevaarlik maak is die gebruik van waterstoffluoriedsuur (HF) om meer gas uit die rots los te laat. Dit is een van die giftigste sure bekend. As ‘n klein druppeltjie op jou vel val, is die wond feitlik ongeneeslik, maar veel erger is dat die suur in jou vel insyfer en kom dan in jou bloedstroom. Die klein bietjie verbind met die kalsium in jou bloed en veroorsaak hartversaking.

In hidrobreking is die gevaar dus dat beide drinkwater en warm brakwater gekontamineer word en word warmwaterbronne ook lewensgevaarlik. Aardbewings vergroot hierdie gevaar net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.