Aarde se magneetveld dalk op die punt om om te swaai – maar nie rede vir paniek

MagneetveldDie aarde se beskermende magneetveld het oor die afgelope 200 jaar al met 15% verswak, en as na vorige magnetiese bollemakiesies gekyk word, is die aarde agter skedule om weer so te maak.

Wanneer die pole omgeswaai het, sal die kompasnaald suid wys, in plaas van noord. Maar so iets neem duisende jare om volledig voltrek te word. Die magneetveld dien as belangrike skild teen kosmiese bestraling, en hoewel daar probleme gaan wees, het oordeelsdagprofete die dam gereeld onder die eend uitgeruk. Nasa wys daarop dat die aarde se magneetveld nie werklik afskakel tussen die omswaaiperiodes nie, maar eintlik net meer kompleks raak. Magnetiese “suidpole” en “noordpole” kan op haas enige plek opduik, tot die proses afgehandel is. Aardlinge word dus steeds beskerm, maar dié feit word selde gemeld.

Wanneer die magneetveld baie verswak is in afwagting van die omswaai, sal die aarde se kragnetwerke meer aan kosmiese uitbarstings blootgestel wees, en sal daar meer kragonderbrekings wees. Kosmoklimatoloë meen dit sal waarskynlik ‘n invloed op klimaat hê, en mense sal hulself beter teen sonlig moet beskerm, onder meer deur hoed te dra, om ‘n eskalasie van kankergevalle te voorkom.

Die Internasionale Ruimtestasie beweeg so laag, om so veel as moontlik van die magneetveld se beskerming te geniet, dat dit elke nou en dan ‘n hupstoot nodig het om in die ruimte te bly.

Aan die “positiewe kant” sal mense die hele jaar oor die hele wêreld skouspelagtige auroras kan geniet. Met ruimtereise na Mars sal die ruimtevaarders maande lank sonder die beskerming van die atmosfeer en die magneetveld moet klaarkom, terwyl Mars self ook nie meer oor ‘n meetbare magneetveld beskik nie. Die afwesigheid van die magneetveld word in verband gebring daarmee dat ‘n groot deel van die eertydse atmosfeer deur die sonwind weggewaai is.

Wetenskaplikes wys egter gou daarop dat die uitsterf van spesies in die verlede nie met die omswaai in verband gebring kan word nie, en ook nie met tydperke van vinnige mutasies in verband gebring kan word nie. Hierdie tydperke, en die rigting van die magneetveld, kan akkuraat gemeet word omdat deeltjies in die rots, veral stollingsgesteentes, hulle ooreenkomstig die rigting van die megneetveld skik. Die ouderdom van die rots kan weer akkuraat bepaal word. So kon die tyd waartydens Sediba in die Sterkfontein-omgewing geleef het baie akkuraat bepaal word omdat dit met ‘n omskakeling saamgeval het.

Gemiddeld vind omskakelings vier tot vyf keer per miljoen jaar plaas, maar die individuele tye wissel van betreklik kort tot baie lank. Tog meen van die wetenskaplikes dat die aarde nou “agter skedule” is. Daar is tekens dat die omskakeling reeds begin het, soos ‘n anomalie wat oor Brasilië bestaan.

Die Europese Ruimte-agentskap het drie tuie, saam as die Swarm bekend, gelanseer wat detail-ondersoeke doen na die magneetveld om meer daarvan te wete te kom en te kan verstaan.

Bronne: Mail OnlineNasa

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Hoofnuus, Ruimte, Wêreldnuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae