Aardskuddings ruk Kroasië na groot aardbewing

Geboue lê in puin na die dodelike aardbewing in Kroasië (Foto: Damir Sencar, AFP)

ʼn Dag nadat ʼn aardbewing waarin etlike mense gesterf het Kroasië getref het, het nog aardskuddings inwoners Woensdagoggend skrik op die lyf gejaag.

ʼn Aardbewing van 6,4 het Dinsdag groot skade in en rondom Petrinja, ʼn dorp sowat 50 km suid van die hoofstad, Zagreb, veroorsaak.

Minstens sewe mense is dood, 20 beseer en talle geboue het ineengestort. Reddingwerkers het deur die nag na nog slagoffers – of oorlewendes – gesoek. Minstens ses mense is tydens die reddingspoging gered.

In die nabygeleë dorpie Majske Poljane is vyf mense dood aangetref. Die aardbewing het huise en geboue op plase in puin gelê.

Tomislav Suknaic staan voor sy verwoeste huis in die dorpie Majske Poljane (Foto: Damir Sencar, AFP)

Een van die oorledenes is ʼn jong meisie wat onder die puin van geboue in ʼn straat in Petrinja gevind is. ʼn Man is in ʼn nabygeleë nedersetting onder die puin van ʼn kerk gevind.

Marica Pavlovic en haar man, Tomislav, kan nie na hul huis terugkeer nie nadat dit deur die aardbewing verwoes is (Foto: Damir Sencar, AFP)

Inwoners in en rondom Petrinja het meestal nie geslaap nie uit vrees vir nog ʼn aardbewing. Sommige het verkies om in hul motors te bly of in ʼn nabygeleë militêre barakke te skuil. Die meeste van dié inwoners sit sonder ʼn heenkome nadat hul huise in puin gelê is.

Janez Lenarcic, hoof van krisisbestuur van die Europese Unie, het Petrinja Woensdag besoek om die nood te bepaal is.

“In hierdie stadium is daar ʼn behoefte aan tente, elektriese verwarmers, beddens, slaapsakke asook groot houers waarin mense kan bly,” het Lenarcic op Twitter geskryf.

Kroatiese soldate staan langs die beskadigde geboue in Petrinja (Foto: Damir Sencar, AFP)

Dele van Petrinja en die nabygeleë stad Sisak was Woensdagoggend steeds sonder elektrisiteit.

Die fondasies van huise, skole en ander geboue in die omgewing is Maandag reeds deur ʼn matige aardskudding verswak, wat kon bydra tot die groot skade.

Pous Franciskus het sy innige simpatie met die beseerdes en die families van die oorledenes betuig.

“Ek hoop dat die owerhede van die land, met die hulp van die internasionale gemeenskap, binnekort in staat sal wees om die lyding en trauma van hierdie mense te verlig.”

Vrywilligers en aanhangers van die Kroatiese sokkerklub, Dinamo, help soek oorlewendes tussen die puin in Petrinja (Foto: Damir Sencar, AFP)

Reddingwerkers het deur die nag na nog slagoffers (Foto: Damir Sencar, AFP)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.