Aardvark dood in brand by Londen-dieretuin

Een van die Londen-dieretuin se aardvarke (Foto: ZSL London Zoo)

Misha die aardvark is dood en vier meerkatte word vermis ná ʼn brand Saterdagoggend by die dieretuin in Londen uitgebreek het.

Die Britse toeriste-aantreklikheid is gesluit tot verdere kennisgewing en personeel probeer nog die omvang van die skade bepaal.

Maroela Media het vroeër berig die brand het kort ná 06:00 GMT by die dieretuin se Animal Adventure-gebied uitgebreek voor dit na ʼn nabygeleë geskenkwinkel en kafee versprei het. Besoekers kan in dié deel van die dieretuin die diere hanteer en voer.

Meer as 70 brandbestryders het drie ure lank gespook om die brand onder beheer te bring terwyl natuurbewaarders, wat op die perseel in Regent’s Park in sentraal Londen bly, die diere na veiligheid geskuif het. Van die personeel moes vir rookinaseming en skok behandel word.

Die tienjarige Misha, een van die dieretuin se mees geliefde diere, het in die brand omgekom en vier van die meerkatte word nog vermis, het Dominic Jermey, direkteur-generaal van die dieretuin, gesê. “Ons is absoluut platgeslaan deur die nuus dat Misha dood is en ons probeer nog steeds uitvind presies wat met die meerkatte gebeur het. Maar op hierdie stadium is die plek, waar die brand uitgebreek het, gesluit,” het hy aan BBC TV gesê.

“Ons is nog nie seker wat met die meerkatte gebeur het nie, maar ons is ongelukkig nie in hierdie stadium optimisties nie.”

Hy het gesê geen van die ander diere is beseer nie.

Die dieretuin, die wêreld se oudste wetenskaplike dieretuin wat sy oorsprong in 1826 het, is die tuiste vir 20 166 diere, aldus die opname in 2017.

Die oorsprong van die brand word ondersoek. “Die brand het hoofsaaklik skade aangerig aan die kafee en winkel, maar deel van ʼn dierehanteringsgebied is ook beskadig,” het David George, stasiebevelvoerder van die brandweer, gesê. “Ons brandbestryders moes hard werk om die brand so vinnig as moontlik onder beheer te bring en seker te maak dat dit nie na ander hokke versprei nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.