Ackers en seun ‘teleurgesteld’ oor bewerings

Johan Ackermann. Foto: Gloucester Rugby/Facebook

Die Gloucester-rugbyklub in Engeland het reageer op bewerings dat sy breier Johan Ackermann en sy seun, Ruan, ʼn man by ʼn kroeg in Cheltenham aangerand het.

Stephen Vaughan, uitvoerende hoof van Gloucester, het in ʼn verklaring bevestig die voorval het plaasgevind en gesê hulle is bewus daarvan dat ʼn groepie individue uitlatings maak daaroor wat nie waar is nie.

Vaughan het gesê die klub keur geensins enige vorm van geweld goed nie maar staan Ackermann en sy seun onvoorwaardelik by nadat hulle die bewyse nagegaan het. “Gloucester Rugby neem enige aantygings uiters ernstig op en ons het ʼn volledige ondersoek na die voorval gedoen.”

Volgens Vaughan het hulle met Ackermann, sy seun, die bestuur van die klub waar die beweerde voorval plaasgevind het, die polisie en onafhanklike getuies gepraat en ook kringtelevisiebeeldmateriaal nagegaan. “Ek is gevolglik heeltemal tevrede dat alhoewel ‘n voorval plaasgevind het, dit deur ander mense en nie deur Johan en Ruan aangehits is nie.”

Ruan Ackermann (links). Foto: GB Jordaan

Vaughan het gesê die pa en seun is ontsteld en teleurgesteld rakende die bewerings maar waardeer die ondersteuning van die klub se ondersteuners, spelers, kollegas sowel as vriende en familie.

Maroela Media het vroeër berig Katie Allen het Maandag foto’s van haar broer, Harry Allen, op haar Instagram-profiel geplaas waarop Harry se gekneusde gesig gesien kan word. Allen beweer haar broer is Sondag in die vroeë oggendure deur Ruan, Johan en ʼn ongeïdentifiseerde derde persoon by die 21 Club aangerand.

Volgens Allen het die drie sonder rede vir Harry gepak, sy trui oor sy kop getrek en hom verskeie kere teen sy kop en arms en in sy gesig geslaan. Allen beweer dat die plaaslike polisie “baie bewyse” het, maar sê sy twyfel of die Ackermanns in hegtenis geneem sal word. “Hulle moet nie toegelaat word om hul grootte, bekendheid en mag te gebruik om ander met so min respek te behandel nie.”

Johan Ackermann is ʼn afgetrede Suid-Afrikaanse rugbyspeler en tans die afrigter van die Gloucester-rugbyklub. Hy was voorheen afrigter van die Leeus. Ruan Ackermann het voorheen vir die Leeus gespeel en speel tans vir Gloucester.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Hans ·

Wonder wat het Allen nou vir hul self te sê. Meskien is die bewyse gedokter of so iets dergliks. Maak altyd eers seker oor jou feite voordat jy iets in die openbaar sê wat jou later gaan hap. Ek kan dit moeilik vind dat iemand gaan stil staan en niks doen wanneer hy aangeval word nie. Dit is net hoe die natuur werk en ons is deel van daai natuur.

jaco ·

Kry werk in n land SONDER misdaad, korrupsie, swak staatshospitale ens ens en dan mors hulle dít op. Vreemd

Hennie ·

Sonder misdaad en korrupsie? Jy moet jou kop bietjie uit die sand haal.

Basson ·

Wys ons die beeldmateriaal, hoekom maak hulle dit nie publiek?

Koos B ·

Ek dink die ou lyk nogal goed vir iemand wat deur die twee groot perde aangerand is en dit nogal met die hulp van ‘n derde persoon.

Ada ·

Maroela waarom is daar aanhalingstekens by die woord : teleurgesteld?
Is julle nie seker of hy teleurgesteld is nie of neem julle sy teleurgesteldheid met ‘n knippie sout?
Is dit dalk vir sensasie?
Sal graag die verdeuideliking wil hoor.
Dankie
Ada

Asjas ·

Gaan Google aanhalingstekens of enigiets VOOR jy jou naam met ‘n plank slaan.

LMF ·

Kan nie my indink die manne kon so laag daal nie hul het darm hul reputasie Ek sal meer dink die ‘slagoffer’ het suur druiwe of hy het geld hoor kling sorry ek is nie n leeu nie maar dit klink nie soos ons groot name wat aan hul toekoms gaan werk het doer oorkant nie

Sam ·

Jaco…sonder misdaad? 13% meer misdade is in 2017 in Engeland aangemeld. Mes aanvalle het met 26% gestyg, seksuele misdade met 19%…Watse droom wereld leef jy in? Of dalk net te lui om bietjie huiswerk te doen? En Hans, die Allen dame het haar instagram profiel toe gemaak. Dit behoort alles te se.

Hans ·

Ek hou van jou uiteensiting kon dit nie self beter gedoen het nie. Jip dankie vir die inligting.

Wouter ·

Die mannetjie sukkel mos al lank met dissipline. Miskien moet n groot engelsman hom maniere leer. Dalk sommer vir pappie ook!

Liza101 ·

Gaan speel op die treinspoor Wouter! Jy praat deur jou nek!

Rooi jan ·

Ek kan nie enige voorvalle onthou waarby Ruan betrokke was onlangs wat sou dui op n gebrek aan dissipline nie kan jy hulle vir ons noem asb Wouter.

Hansie slim ·

Mens is soms onredelik onder die kalklig oorsee. Ek het vir 3 jaar “op eiers geloop”.. spreekwoordelike.. om nie my voet verkeerd te sit nie.

Awie Opperman ·

Enige persoon wat al ooit vir Johan en Ruan ontmoet het sal hierdie bewerings aflag. Daar is geen kans dat hulle die beweerde slagoffer sou aanval in ‘n nagklub of enige ander plek nie, ek kan wel dink dat hulle hulself sou verdedig indien hulle aangeval is, en dit is omtrent hoe dit vir my klink. Johan en Ruan moet op koers bly en aanhou met die goeie werk wat hulle doen. Dis ‘n groot verlies vir SA Rugby dat hulle in Engeland moet gaan speel en afrig, maar hopelik is dit nie finaal nie en word hulle albei betrek by die Springbokke.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.