Adele maak skoonskip in 2021

Adele. (Foto: British Vogue)

Die Britse popster Adele se jongste album getiteld 30 is die Verenigde Koninkryk se topverkoperalbum vir 2021 – slegs ses weke nadat dit in November uitgereik is.

Meer as 600 000 kopieë van die sogenaamde “egskeidingsalbum” is verkoop, met 80% van die verkope wat op CD en vinielplate was. Die totale albumverkope val steeds ver onder die verkope van haar vorige album, 25, wat 800 000 kopieë in sy eerste week verkoop het.

Dié teenstrydigheid illustreer hoe die musiekbedryf danksy stroming deur enkelsnitte gedomineer word, wat nou 83% van verbruik in die VK uitmaak.

ʼn Rekord aantal van 147 miljard liedjies is verlede jaar in die VK gestroom, sowat 5,7% meer as in 2020.

Agt van die toptien‑albums in 2021 is deur Britse kunstenaars. Ed Sheeran het twee albums op die toptien, met die jongste album = (Equals) in die tweede plek en sy vorige album ÷ (Divide) in die sewende plek.

Die omslag van Adele se album getiteld ’30’.

Die Sweedse popgroep Abba se nuwe album, Voyage, is in die derde plek en die Amerikaanse sangeres Olivia Rodrigo se debuutalbum, Sour, is in die vierde posisie.

Queen se Greatest Hits is in die vyfde plek en Dua Lipa se Future Nostalgia is in die sesde posisie. Elton John se Diamonds is in die agtste posisie, terwyl Fleetwood Mac se 50 Years: Don’t Stop in die negende plek is.

In die laaste plek is die Britse kletsrymer Dave se tweede album, We’re all in this together.

Sheeran se “Bad Habits” was ook die jaar se grootste enkelsnit in die VK, met Rodrigo se “Good 4 U” en “Drivers Licence” onderskeidelik in die tweede en derde posisies.

Bronne: BBC, Billboard.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SlinkseKoljander ·

Jinne, sy het baie gewig verloor.
Hou baie van haar musiek!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.