Advertensieborde ‘dood’ virusdraende muskiet

Die advertensiebord. Foto: Skermskoot uit die video

Die advertensiebord. Foto: Skermskoot uit die YouTube-video

Die advertensiemaatskappye Posterscope en NBS het onlangs ʼn advertensiebord ontwerp wat glo die virusdraende Aedes aegypti-muskiet sal lok en doodmaak. Die bord stel koolstofdioksied en melksuuroplossing vry wat menslike asemhaling en sweet naboots.

Die muskiete word vasgevang binne die advertensiebord voordat hulle uiteindelik doodgaan.

Die advertensiemaatskappye het gesê die doel daaragter is om die sogenaamde Zika-virus te bestry. Dié virus kom voor in muskiete en het vinnig versprei in Brasilië en Latyns-Amerika.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het gesê meer as 1,5 miljoen voorvalle van dié virus is sedert April 2015 in dié lande aangemeld.

Die Amerikaanse Center for Disease Control and Prevention het ook vandeesmaand bevestig dat dié virus kan lei tot mikrokefalie – ʼn toestand gekenmerk deur babas wat met abnormale klein koppies gebore word.

Twee van die advertensieborde is reeds in Rio de Janeiro opgerig, en die stigters beplan om binnekort meer op te rig. Die advertensiebord kan muskiete van tot 2,5 km ver lok.

Hoewel die Wêreldgesondheidsorganisasie bevestig het dat dié borde verspreiding van die virus kan bestry, sê hulle meer navorsing is nodig.

Chris Jackson, ʼn plaagbeheerkenner by die Universiteit van Southampton, sê die borde kan egter ook negatief wees. “Enigiets wat die virus kan bestry, word verwelkom,” het hy verduidelik. “Maar met die spesifieke veldtog het meer mense die kans om die virus te kry omdat die muskiete na ʼn sentrale plek gelok word. Dit hang alles af van waar die bord geplaas word, anders nooi jy bloot die muskiete na die mense.”

Lees alle vorige berigte oor die Zika-virus op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.