Advertensiereus onttrek uit SA

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Noorweegse advertensiereus Adevinta het Donderdag gesê hy gaan uit Australië en Suid-Afrika onttrek omdat hy op sy vyf belangrikste Europese markte wil fokus.

Die maatskappy het besluit om van vroeg volgende jaar uit Australië en Suid-Afrika te onttrek. Sy Gumtree-platform is in albei lande teenwoordig, terwyl Autotrader en Carsguide in Australië werksaam is.

Die maatskappy sal voortaan sy beleggingskapasiteit op vyf kernmarkte toespits: Duitsland, Frankryk, Spanje, Beneluxlande (België, Nederland, Luxemburg) en Italië.

Volgens Adevinta se uitvoerende hoof, Rolv Erik Ryssdal, het dié maatskappy sy strategie “vernuwe” en sy handelsmerkportefeulje hersien ná sy verkryging van eBay se Classifieds Group-eenheid.

“Ons is baie opgewonde oor die beduidende groeigeleenthede en ons unieke posisies om daardie markte te verower,” het Ryssdal gesê.

Adevinta het die aankondiging in ’n verdienstestaat gedoen wat toon dat dit in die derde kwartaal €29 miljoen (sowat R516 miljoen) in die rooi was. Dit het in dieselfde tydperk verlede jaar meer as twee keer soveel verloor.

Die maatskappy se kernwins – verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en amortisasie (EBITDA) – het met 7% tot €127 miljoen (sowat R2,2 miljard) gedaal.

EBITDA het in die eerste nege maande van die jaar met 19% tot €395 miljoen (sowat R7 miljard) gestyg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Shakespeare ·

Met die ANC/EFF aliansie gaan al die oorsese maatskappye onttrek. Wie wil in ‘n agtertangse land
belê ??

Wielspore ·

As ‘n besigheid ‘n dubbel syfer van EBITDA verklaar gaan dit uitstekend met hom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.