Afganistan-aardbewing: Dodetal styg skerp

Dokters in Pakistan behandel pasiënte ná die aardbewing op 26 Oktober 2015 in Afganistan en Pakistan  (Foto: AP Photo/Mohammad Sajjad)

Dokters in Pakistan behandel pasiënte ná die aardbewing op 26 Oktober 2015 in Afganistan en Pakistan (Foto: AP Photo/Mohammad Sajjad)

Die dodetal het skerp gestyg ná ʼn aardbewing Maandag die noorde van Afganistan en Pakistan geruk het.

Minstens 263 mense is reeds dood verklaar in dié aardbewing met ʼn sterkte van 7.5, het die USGS berig.

Geboue in die hoofstad Kaboel het ongeveer 45 sekondes lank geskud en die mure het gekraak en motors het in die strate gerol. Die elektrisiteit en kommunikasiekanale is ook onderbreek.

Minstens 228 mense is in Pakistan dood en meer as 1 000 beseer. Volgens beamptes in Afganistan is minstens 33 persone dood en meer as 200 beseer. In die Indies-beheerde Kasjmir-streek is twee sterftes aangemeld. Owerhede verwag dat die sterftesyfer nog sal styg wanneer nooddienste verafgeleë gebiede bereik.

Twaalf skoliere by ʼn meisieskool in Takhar, wes van Badachsjan, is in ʼn stormloop dood toe hulle uit die gebou wou vlug, het Sonatullah Taimor, woordvoerder vir die provinsiale goewerneur, gesê. Nog 42 meisies is na ʼn hospitaal geneem.

Abdullah Abdullah, uitvoerende hoof in die Afganistanse regering, het ʼn noodvergadering met rampbestuurowerhede byeengeroep en hulle gemaan om seker te maak dat die inwoners gereed is vir naskokke. Dit beteken dat honderde mense gedwing sal word om buite te slaap terwyl die nagtemperatuur tot laer as vriespunt daal. Hy het dokters en hospitale ook aangesê om gereed te wees vir ongevalle.

President Ashraf Ghani het sy medelye betoon met diegene wat naasbestaandes en geliefdes verloor het en het ʼn assesseringskomitee aangestel om seker te maak dat noodverligting die behoeftiges so gou as moontlik sal bereik.

Josh Earnest, woordvoerder vir die Withuis, het gesê Amerika het noodskuilings en noodverligtingspakkies wat in pakhuise dwarsoor Afganistan gestoor word wat gebruik kan word. Hy het gesê sy regering is reeds in verbinding met owerhede in Afganistan en Pakistan en is gereed om enige bykomende ondersteuning te bied.

Pervez Rashid, minister van inligting in Pakistan, het gesê sy land sal nie enige hulpversoek aan die internasionale gemeenskap rig nie, aangesien die land oor die nodige hulpbronne beskik om redding- en verligtingswerk te doen. “Ons het genoeg hulpbronne om die situasie te hanteer. Ons topprioriteit is om diegene te help wat deur die aardbewing geraak is,” het Rashid aan ʼn perskonferensie gesê.

Meer as 80 000 mense is op 8 Oktober 2005 in Pakistan dood en 3 miljoen haweloos gelaat tydens ʼn aardbewing met ʼn sterkte van 7.6 in die noordweste van die land. Dié aardbewing was egter baie vlakker as Maandag sʼn, slegs 10 km onder die oppervlak, in vergelyking met 213 km, en het dus baie meer skade veroorsaak, het Mohammad Hanif, ʼn beampte by die departement van meteorologie gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SNEL ·

Dis vreeslik, my hart het sommer in stukke geskeur toe ek daai seuntjie se verwarde gesiggie sien. Hoe vreeslik moet dit nie wees om die aardbewing te beleef en dan as jy oorleef, sonder jou Mamma en Pappa deur vreemdes omsingel te word terwyl jy nog aan skok ly en baie pyn het nie. So iets moet vreeslik wees en almal se lewens is nou so deurmekaar.

BUSFARK VAN PLETSEN ·

Moeder Aarde weet hoe om die mensdom te beheer vloede tsonamies aandbewings vergryping aan drank en dwelms oorlog siektes Die mensdom moet intoom gehou word anders vernietig ons die aarde dit was daar en sal nog erger raak .Die sterkes en slimes sal oorleef .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.