Afgewaterde verslag oor fuifpartytjies by Downing Street oorhandig

Boris Johnson (Foto: AP)

Die Britse eerste minister Boris Johnson het ʼn gewysigde weergawe van die lang verwagte verslag oor partytjies wat tydens die inperkingstyd by sy Downing Street-kantoor gehou is, ontvang.

Sue Gray, ʼn senior staatsamptenaar, het die afgelope ruk verskeie bewerings ondersoek oor drinkpartytjies wat gehou is terwyl gewone burgers aangesê is om ʼn sosiale afstand weens die Covid-19-pandemie te handhaaf.

Die openbare en politieke woede oor dié klaarblyklike dubbele standaarde het Johnson in ʼn moeilike posisie geplaas en bespiegeling aangevuur dat hy dalk uitgeskop gaan word of sal moet bedank.

Twyfel oor Johnson se onmiddellike toekoms het nou eers bedaar nadat Londen se metropolitaanse polisie (Met) verlede week aangekondig het dat speurders met hul eie ondersoek na die gebeure gaan begin.

Die Met het Gray opdrag gegee om nie die volle verslag bekend te maak nie, sodat die polisieondersoek nie in die gedrang gebring word nie. Dit gee Johnson ʼn kans om asem te haal terwyl speurders hul ondersoek voortsit.

Die kabinetskantoor het ʼn versigtig bewoorde verklaring uitgereik waarin hy sê dat Gray ʼn geredigeerde weergawe van haar verslag aan Downing Street oorhandig het. “Ons kan bevestig dat Sue Gray ʼn bywerking van haar ondersoeke aan die eerste minister oorhandig het,” lui die verklaring.

Johnson sal na verwagting Maandagmiddag ʼn verklaring aan LP’s maak.

Sy amptelike woordvoerder het bevestig Downing Street het die verslag vanoggend ontvang en gesê: “Ons sal dit publiseer soos ons dit ontvang het.”

Johnson se teenstanders het hom daarvan beskuldig dat hy die parlement mislei het deur vol te hou die byeenkomste by Downing Street is ingevolge die reëls gehou en was werkverwant.

Ministers sou in soortgelyke omstandighede gewoonlik onder druk wees om te bedank, maar Johnson het Maandag aan verslaggewers gesê hy hou by sy vorige stellings oor die gebeure.

Daar was die afgelope paar weke talle onthullings – asook uitgelekte foto’s en e-posse – oor die voortgesette verbreking van regulasies oor sosiale afstandhandhawing wat die regering ingestel het, by die Downing Street-byeenkomste wat “Partygate” gedoop is.

Onthullings sluit in besonderhede oor ʼn gefuif in Mei 2020 in die Downing Street-tuin, Kersfeesvieringe, asook ʼn drinkpartytjie voor prins Philip se begrafnis in April. Besonderhede hieroor – toe personeel glo ʼn reistas vol drank ingebring het en daar tot die vroeë oggendure gedans is – het groot woede veroorsaak.

Downing Street het reeds verskoning hiervoor aan koningin Elizabeth II gevra.

Die onthullings is die grootste bedreiging vir Johnson se posisie sedert hy in 2019 verkies is te midde van ʼn vlaag steun vir sy populistiese Brexit-agenda.

Die vertraging met die bekendmaking van die volledige verslag gee hom egter ʼn blaaskans.

ʼn Handvol van sy eie Konserwatiewe Party-LP’s het reeds gesê hulle het geen vertroue in sy leierskap nie en nog meer sal hulle na verwagting by dié koor stemme aansluit.

Altesame 54 Tory-LP’s is nodig vir ʼn stemming van geen vertroue nie, maar verskeie parlementslede het tot dusver verkies om te swyg tot die Gray-verslag bekend gemaak word.

Die verslag is nou egter nie die volle weergawe nie en die polisie se ondersoek gaan maande lank duur. Dit beteken Johnson het tyd om sy ondersteuners te hergroepeer en terug op die voorvoet te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JohanR ·

Lyk my Cyril en Boris is van die selfde stoffasie gemaak…..duck and dive!

Groen Ghoen ·

So kom die waarheid uit: Covid gaan om mag oor die goedgelowige “massas” te bekom deur vrees in te boesem. Diegene wat die inperkings ingestel het, steur hulle nie daaraan nie. Noudat Johnson se skandes op die lappe kom en sy pos bedreig word, word Covid inperkings in Brittanje skielik opgehef. En die farmaseutiese industrie ry die golf van histerie en waansin.

Shakespeare ·

Ag nee tog. Hy is netso mens soos ek en jy. Die hele berig is absurd en onvanpas. Mag hy nie ook mens wees nie ???

Frank John ·

GEEN politiekus kan vertrou word nie, kon nog nooit en sal ook nooit. Nie een van hulle, van die verlede of in die toekoms sal ooit hul beloftes na kom nie. Hulle dink ook hulle is ‘n cut above the rest. “Untouchable”

annie ·

En nou gaan die swaap sommer ‘n wêreldoorlog begin to save face: Dadelik gevlug na die Ukraïne om te speel hy is ‘n super-wêreldleier. Biden gaan nie hou van dié kompetisie nie. Wie die domste van die drie, Biden, Johnson en die Ukraïne-akteurtjie is, is ‘n moeilke keuse. En dan kom die VN en Navo se twee patete ook nog by. Die tafel staan gedek vir ‘n groot ramp. En dit móét terwyl Biden nog hou en die tyd is min…

Esme ·

Boris, hoekom lyk dit of jy, Joe en Cyril net wil kuier? Aai, julle is wragtag nie ‘n voorbeeld vir enige iemand nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.