Afghaanse baba op ontruimingsvlug gebore

Die Afghaanse vrou het in die vliegtuig se laairuimte geboorte gegee. (Foto: Air Mobility Command/Twitter)

ʼn Swanger vrou wat uit Afghanistan na veiligheid gebring is te midde van volgehoue onrus in die land, het tydens ʼn ontruimingsvlug na Duitsland aan ʼn babadogtertjie geboorte gegee.

Die Amerikaanse lugmag het gesê die vlug was op pad van die Midde-Ooste na die Ramstein-lugbasis in Duitsland toe die vrou kontraksies begin kry het.

“Daar was komplikasies en die bevelvoerder van die vliegtuig het besluit om laer te vlieg om die lugdruk in die kajuit te verbeter. Dit het gehelp om die ma se toestand te stabiliseer en haar lewe te red,” het die lugmag in ʼn twiet gesê.

Mediese personeel het kort nadat die vliegtuig geland het die vrou gehelp om in die vliegtuig se laairuimte geboorte te gee aan ʼn gesonde babadogtertjie. Ma en baba is na ʼn mediese fasiliteit geneem vir waarneming.

“Albei verkeer in ʼn goeie toestand na afloop van die geboorte.”

Afghanistan is die afgelope paar weke in chaos gedompel nadat ʼn weke lange opmars van die Taliban tot die val van die regering gelei het. Derduisende Afghane en ander uitlanders het sedertdien na die lughawe in Kaboel gestroom in ʼn poging om die land te verlaat.

Volgens die BBC beheer die Amerikaanse weermag tans dié lughawe en het hulle reeds daarin geslaag om sowat 17 000 mense uit die land na veiligheid te neem.

Die Amerikaanse president, Joe Biden, het aangekondig dat alle Amerikaanse troepe teen 31 Augustus uit die land sal onttrek. Verskeie lande het intussen gevra dat dié sperdatum verleng word sodat diegene wat Westerse agentskappe van inligting verskaf het, betyds na veiligheid geneem kan word. Daar word glo gevrees dat dié mense deur die Taliban vir hoogverraad tereggestel kan word.

“Amerika beoog om tussen nou en die einde van die maand altesaam 60 000 mense na veiligheid te bring, wat wiskundig onmoontlik is,” het Josep Borrell, hoof van die EU se buitelandse beleid, Saterdag aan die nuusagentskap AFP gesê.

Die Taliban blameer glo Amerika vir die grootskaalse chaos op die Kaboel-lughawe. Sewe Afghaanse burgers is Saterdag dood toe duisende mense die lughawe bestorm het in ʼn poging om landuit te vlug.

Volgens die BBC het ʼn Taliban hooggeplaaste, Amir Khan Muttaqi, na bewering gesê Amerika het misluk om orde op die lughawe te handhaaf.

“Daar is vrede en kalmte in die hele land, maar chaos heers op die lughawe in Kaboel.”

Bykomende bron: AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Harley Davidson ·

En wat se die wat Biden gesteun het en President Trump gekruisig het ,hierdie is ‘n belediging vir alle Amerikaanse soldate wat in Afganistan gesterf het .Biden moet aangekla en vervolg word maar omdat hy net ‘n marionet pop is moet Harris ook ondersoek word.

Aai ·

Hulle het nou ‘n lat vir hulle eie gat geplik hoe weet hulle dat dit nie ‘n Taliban is wat hulle na Amerika vlieg?Gee dit tyd dan gaan die Taliban hulle aanval in hulle eie land sponsored by the USA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.