Afghanistan: Reddingswerkers spook om by aardbewing-slagoffers uit te kom

ʼn Man soek na besittings te midde van die ruïne van ʼn huis ná die aardbewing in Bernal, Paktika (23 Junie 2022) (Foto: Ahmad Sahel Arman/AFP)

Reddingswerkers spook Donderdag teen die horlosie en te midde van swaar reën om gebiede in oostelike Afghanistan te bereik waar ʼn aardbewing reeds minstens 1 000 lewens geëis het en duisende mense dakloos gelaat het.

Die aardbewing Woensdag van 5,9 het die oostelike dele van die land die swaarste getref. Selfoon- en kragtorings het omgeval en rots- en modderstortings het bergpaaie versper.

Daar is dorpies wat heeltemal verwoes is in van die distrikte wat die ergste deur die aardbewing getref is. Oorlewendes sê hulle sukkel om toerusting te kry om slagoffers te begrawe.

“Toe ek uit my huis kom was alles stil, want die mense was almal onder hul huise begrawe. Daar is niks oor nie,” het die 21-jarige Zaitullah Ghurziwal gesê.

Die ramp hou ʼn groot logistieke uitdaging in vir Afghanistan se nuwe Taliban-regering wat homself van die grootste deel van die res van die wêreld geïsoleer het toe streng Islamitiese reëls ingestel is teen vroue en meisies.

“Dis baie moeilik om inligting van grondvlak af te kry, weens swak netwerke,” het Mohammad Amin Huzaifa, hoof van inligting vir die Paktika-provinsie, Donderdag aan AFP gesê. “Die gebied is deur oorstromings geraak weens swaar reën gisteraand. Dis baie moeilik om by die betrokke gebiede uit te kom.”

Buitelandse bystand is opgeskort na die land toe die Taliban verlede jaar Augustus oorgeneem het. Nog voor die aardbewing die land getref het, het die Verenigde Nasies reeds gewaarsku dat ʼn humanitêre krisis die hele bevolking bedreig.

Antonio Guterres, sekretaris-generaal van die VN, het gesê die internasionale agentskap het “ten volle gemobiliseer om te help”, en gesondheidspanne en mediese voorraad, kos, traumavoorraad en noodskuilings is na die gebiede ontplooi.

Oorlewendes in die Bermal-distrik, ʼn rits afgeleë bergdorpies, sê hulle sukkel om toerusting te kry om grafte te grawe.

“Ons het nie eers ʼn graaf gehad nie. Ons het ʼn trekker gebruik. Ons het 60 mense gister begrawe en nog 30 moet begrawe word. Mense werk onverpoosd,” het Ghurziwal bygevoeg. “Daar is nie komberse of tente nie; daar is geen skuiling nie. Ons hele waterstelsel is verwoes. Alles is verwoes, huise is verwoes. Daar is letterlike niks oor om te eet nie.”

Zabihullah Mujahid, woordvoerder vir die regering, het Donderdag op Twitter gesê hulpvlugte het van Katar en Iran aangekom. Pakistan het vragmotors met tente, mediese voorraad en kos gestuur.

Ramiz Alakbarov, humanitêre koördineerder vir die VN, het aan verslaggewers gesê byna 2 000 huise is waarskynlik verwoes – ʼn groot getal in ʼn gebied waar die gemiddelde huishouding uit meer as 20 mense bestaan.

“Daar is sewe in een vertrek, vyf in ʼn ander, vier in ʼn ander, en drie in ʼn ander wat in my familie dood is,” het Bibi Hawa aan AFP gesê uit ʼn hospitaalbed in Paktika. “Ek kan nie meer praat nie. My hart is te seer.”

Die gesondheidsorgstelsel in Afghanistan was reeds op die randjie van ineenstorting.

“Ons land is arm en sonder hulpbronne,” het hospitaal-direkteur Mohammad Yahya Wiar gesê. “Hierdie is ʼn humanitêre krisis. Dis soos ʼn tsoenami.”

Nog voor die Taliban oorgeneem het, was Afghanistan se nooddienste onder groot druk om ramptoestande te hanteer, wat gereeld die land teister. Met slegs ʼn handjievol vliegtuie en helikopters wat oor is sedert hulle weer aan bewind gekom het, is dadelike reaksie op die jongste ramp uiters beperk.

“Die regering werk binne sy vermoë,” het Anas Haqqani, senior Taliban-beampte, op Twitter gesê. “Ons hoop dat die internasionale gemeenskap en hulpagentskappe ons mense sal help in hierdie situasie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Martin ·

Gelukkig het die Amerikaansa belasting betaler baie geld ingesit in Afghanistan oor die afgelope 20 jaar. Dit sluit in $88,6 miljard op “Sekuriteit”; $36,3 miljard op “Beheer en Ontwikkeling”; $4,2 miljard op “Humanitêr”; en $15,9 miljard op “Agentskapbedrywighede. So, nee wat die Taliban regering het oor as genoeg geld beskikbaar om hulle mense by te staan tydens hierdie nood – dit is nie nodig vir enige Westerse nasies om nog humanitêre hulp aan Afghansitan te gee nie, die Taliban het mos breë skouers en wou in beheer wees en moet maar sterk staan en van hulle “poppy geld” gebruik om hulle eie mense te help.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.