Afgryslike haaiaanval eis swemmer

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Peter PARKS / AFP)

Die Australiese polisie het Woensdag menslike oorskot in die water gevind ná ʼn afgryslike haaiaanval by ʼn strand in Sydney.

Dit is die stad se eerste noodlottige haaiaanval sedert 1963.

Nooddiensbeamptes in Nieu-Suid-Wallis sê die swemmer het “katastrofiese beserings” gedurende die aanval opgedoen en daar was niks wat paramedici met hul aankoms op die toneel by Little Bay-strand naby Malabar kon doen nie.

ʼn Man wat op nabygeleë rotse visgevang het, sê hy het gesien hoe ʼn groot haai die swemmer onder die water druk. Die swemmer het ʼn duikpak aangehad.

“Daar was soveel waterspatsels toe hy afgaan,” onthou die man. Volgens hom het die aanval etlike sekondes geduur.

“Dit was verskriklik. Ek hou aan opgooi. Dit was baie, baie ontstellend. Hy het net gaan swem en die dag geniet, maar daardie haai het sy lewe geneem.”

Die polisie in Nieu-Suid-Wallis het intussen gesê ʼn ondersoek na die swemmer se dood is gelas. Die strand is voorlopig gesluit terwyl beamptes die gebied deursoek.

Die plaaslike regeringsgebied van Randwick het ook sy strande vir 24 uur gesluit en kennisgewingborde opgerig om mense teen haaie te waarsku. Dit is deel van “standaardbedryfsprosedures” ná ʼn noodlottige haaiaanval.

“Little Bay is normaalweg so ʼn rustige, pragtige plek wat deur gesinne geniet word,” het Dylan Parker, burgemeester van Randwick, gesê.

“Om iemand in só ʼn haaiaanval te verloor, is afgryslik. Ons ly nog almal aan skok.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Chris ·

Dit is ‘n afgryslike, skokkende toneel. Die man was op die verkeerde plek op die verkeerde tyd. Dit is maar net ‘n bewys die mens is weerloos teen die natuur. Ek het ‘n ontsag vir enige dier wat my kan byt en eet. Die grootse daarvan is krokodil en seekoei. Leeus is daar om op ‘n afstand bekyk te word. Mense moenie kla as jy gebyt of aangeval word nie. Die Lion King is net ‘n animasie fliek.

Martin ·

My simpatie aan die familie. Die mense wat die see ook goed ken en baie tyd in die see spandeer weet vir ‘n feit dat mariene bioloë verkeerd is en hulle probeer altyd slim wees wanner dit by haai navorsing kom! Die Witdood, Tierhaai en Zambesi haaie se nommers is definitief nie besig om af te neem nie die nommers bly konstant! In sekere areas raak die Witdood ‘n probleem omdat hulle nommers buitensporig vermeerder. Ek ondersteun nie die doodmaak van haaie as ‘n reaksie op haai-voorvalle waarby mense betrokke is nie, dit is ‘n risiko om in die see te surf, kreef en perlemoen te duik of om in die see te swem. Hierdie benadering veroorsaak onnodige dierelyding vir beide teiken- en nie-teikenspesies. Daarbenewens versteur uitskot mariene ekosisteme en raak beskermde en kwesbare spesies insluitend die geteikende witdoodshaai en nie-teikenspesies. Die beskikbare wetenskaplike bewyse ondersteun nie die bewering dat die dood van haaie die risiko vir openbare veiligheid sal verminder nie.

Hannelie ·

Dit is hoekom ek nie in die see swem nie. Jaws was oortuigend genoeg, dankie.

Eugene ·

The police are investigating the case. Something fishy going on?

Karina ·

Die see is die haai en visse se area. As mense in die see ingaan, moet hulle weet daar kan probleme kom.
Ek het egter simpatie met die man se familie wat hom op so ‘n vreeslike manier aan die dood moes afstaan. Sterkte aan hulle

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.