Afname in geboortes ná Covid-19-inperking

Argieffoto. (Foto: Unsplash)

Hoe langer die inperking, hoe minder swangerskappe is daar. Dit is een van die bevindings in ʼn navorsingsverslag wat onlangs in die vaktydskrif Human Reproduction gepubliseer is.

Volgens dié verslag het Europa ʼn 14% afname in die geboortekoers in Januarie 2021 gehad, in vergelyking met vorige jare. Hierdie afname, meen navorsers, hou waarskynlik verband met die eerste vlaag van Covid-19 in 2020. Streng inperkingsmaatreëls is nege tot tien maande voor Januarie in Europa geïmplementeer.

In lande waar die gesondheidstelsel onder druk was, soos in Roemenië en Litoue, was die daling in geboortes skerper – tussen 23% en 28% – teenoor lande soos Swede waar geen afsonderingsmaatreëls ingestel is nie. Laasgenoemde het ʼn normale geboortekoers gehad.

“Hierdie afname in die geboortekoers kan op die lang duur nagevolge op die Europese demografie hê, veral in Wes-Europa, waar die bevolking reeds ouer is,” lui die verslag.

Dr. Leo Pomar, ʼn vroedvrou van die Lausanne-universiteitshospitaal wat die verslag geskryf het, sê hulle vermoed paartjies se vrese vir ʼn gesondheid- en maatskaplike krisis tydens die eerste Covid-19-vlaag het bygedra tot die afname in geboortes nege maande later.

“Dit kon indirekte faktore gewees het wat daartoe gelei het dat paartjies eerder besluit het om swangerskappe uit te stel.”

Engeland en Wallis het in Januarie 2021 ʼn 13% afname in geboortes gehad en in Frankryk en Skotland is 14% minder babas gebore. Spanje het ʼn afname van 23% aangeteken.

In Maart van dieselfde jaar het syfers weer genormaliseer, maar nie genoegsaam om op te maak vir die afname in geboortes die vorige maande nie.

Mylpale stadiger bereik

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Nóg ʼn navorsingsverslag wys dat babas wat in die eerste afsonderingstydperk gebore is, minder van hul ontwikkelingsmylpale binne die eerste jaar behaal het as ander babas. Sommige van hierdie babas het wel vinniger begin kruip.

Die navorsing is by 309 babas in Brittanje gedoen wat tussen Maart 2020 en Mei 2020 gebore is en is in die vaktydskrif Archives of Disease in Childhood gepubliseer. Navorsers het bevind dat die pandemie veral ʼn effek op babas se spraak- en kommunikasievermoë gehad het. Altesaam 77% van die babas kon teen een jaar een definitiewe en betekenisvolle woord sê, teenoor 89% wat voor die pandemie gebore is, en 84% kon na dinge of mense wys teenoor 93% van babas wat voor die pandemie gebore is. Meer van hulle kon egter kruip (97,5%) as voor die pandemie (91%). “Dit is moontlik omdat hulle meer tyd op die grond as in karstoeltjies en stootwaentjies deurgebring het,” lui die verslag.

Bron: BBC, The Guardian en Mirror

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

miche ·

Dalk was daar ‘n afname in swangerskappe
tydens inperking in daai lande ( volgens hul statistiek), omdat die skelmpies nie bymekaar kon uitkom gedurende daai tyd nie? ( Tong in kies).
In SA is dit egter ‘n ander saak, dit wemel van Covid-inperking-baba’s.

Eiervrug ·

Ten minste het SA nie daardie probleem nie….
Ek glo ons populasie het geklim met ‘n rekordgetal gedurende lockdown

melaney ·

Dié syfers sal ek glo, maar in SA is dit anders. Kan nie iets in die water wees nie. Dalk iets in die KFC ….

Kattebol ·

Dalk n voorbehoedjie by Dischem gekoop wat nie gewerk het nie.

Elize ·

Ja in SA het dit ontplof in die Covid tydperk. Goeie tydverdryf gewees

Snowball ·

Behalwe in Afrika. Niks stuit Afrika nie. Hier kry ons kinders by dosyne. Ons sukkel met plus, minus en deel maar boeta, ons kan vermenigvuldig.

Debby ·

In SA le die 1 nog in die pram dan is die ander een klaar in die pens

domheks ·

Defnitief nie in SA nie! Hier word hulle betaal as hulle die bevolking uitbrei!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.