Afrigter red swemmer uit water by kampioenskap

Andrea Fuentes red ‘n bewustelose Anita Alvarez uit die water. (Foto: Oli SCARFF / AFP)

’n Sierswemmer van die VSA is Woensdagaand by die Wêreldkampioenskap in Boedapest deur haar afrigter uit die swembad gered nadat sy haar bewussyn in die water verloor het.

Andrea Fuentes het opgemerk dat Anita Alvarez aan die einde van haar roetine flou geword het en klere en al ingespring om haar te hulp te snel. Alvarez het in daardie stadium tot op die bodem van die swembad gesink en glad nie asemgehaal nie.

“Dit was ʼn groot skrik. Ek moes inspring, want die lewensredders het dit nie gedoen nie,” het Fuentes, self ’n viermalige Olimpiese sierswemmedaljewenner, ná die voorval gesê.

“Ek was bang, want ek het gesien sy haal nie asem nie, maar dit gaan nou baie goed met haar.”

Alvarez is ná die voorval op ʼn draagbaar na die swembad se mediese sentrum geneem terwyl spanmaats en ondersteuners geskok toegekyk het. Sommige was in trane.

“Dit was baie intens,” erken Fuentes. “Ek dink sy was minstens twee minute lank sonder suurstof omdat haar longe vol water was.

“Maar ons kon haar na ʼn goeie plek toe neem, sy het die water opgegooi, gehoes en dit was dit, maar dit was ʼn groot skrik.”

Andrea Fuentes red ‘n bewustelose Anita Alvarez uit die water. (Foto: Oli SCARFF / AFP)

Dit is die 25-jarige Alvarez se derde Wêreldkampioenskap. Alvarez het al voorheen haar bewussyn in die water verloor. Sy het verlede jaar ʼn soortgelyke reaksie tydens ʼn Olimpiese kwalifisering in Barcelona gehad.

Fuentes het namens die Amerikaanse sierswemspan in ʼn verklaring op sosiale media gesê Alvarez het haar bewussyn verloor weens die inspanning wat haar roetine geverg het.

“Anita is oukei – die dokters het alle lewenstekens nagegaan en alles is normaal: hartklop, suurstof, suikervlakke, bloeddruk.

“Ons vergeet soms dat dit ook in ander hoë-uithouvermoë-sportsoorte gebeur. Marathon, fietsry, landloop… ons het almal al beelde gesien waar sommige atlete nie die wenstreep haal nie en ander hulle help om daar te kom.

“Ons sport is nie anders as ander nie, net in ʼn swembad, ons druk deur grense en soms kry ons dit reg. Anita voel nou goed en die dokters sê ook sy is oukei.

“Môre rus sy heeldag en sal saam met die dokter besluit of sy die vryspaneindstryd kan swem of nie.

‘n Bewustelose Anita Alvarez word uit die water gebring. (Foto: Oli SCARFF / AFP)

Die Wêreldkampioenskap se lewensredders is egter gisteraand gekritiseer oor hul trae reaksie.

“Toe ek sien hoe sy sink, het ek na die lewensredders gekyk, maar ek het gesien dat hulle verstar was. Hulle het nie gereageer nie,” het Fuentes aan verslaggewers gesê.

“Ek het gedink: ‘Sal jy nou inspring?’ My reflekse het vinnig ingeskop. Ek is so, ek kan nie net toekyk nie.

“Ek het dit nie oorgedink nie, ek het ingespring. Ek dink dit was die gekste en vinnigste vryduik wat ek nog in my loopbaan gedoen het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit van Vrydagaand om 19:30 tot Maandagoggend om 06:00. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
VaalDonkie

hmmm

Dries

Gekste ?? Nee ek dink dit is die teenoorgestelde van gekste

Hannelie

Dankie tog vir haar afrigter. Lyk my die lewensredders het aan “stage fright” gely.

Misky

Gelukkig was die afrigter flink en oplettend. Sal graag wil hoor wat nou met die kamma lewensredders gaan gebeur en dit is dan juis hoekom hulle daar is.

Blikkies

Wel Gedaan, Vinnige optrede het haar lewe gered. Mooi voorbeeld vir die lewensredders.