Afrigters aangekla ná leerder van hitte-uitputting sterf

Foto ter illustrasie. (Foto: Joshua Hoehne/Unsplash)

Twee hoërskool-afrigters van Atlanta in Amerika is van moord aangekla nadat een van hul spelers aan hitte-uitputting dood is tydens kondisioneringsoefeninge.

Volgens CBS News is Imani Bell (16) in Augustus 2019 dood nadat haar basketbal-afrigters die span buite laat oefen het ondanks temperature hoër as 40 °C.

Paramedici het Imani twee keer probeer bybring, maar haar liggaam was glo so warm dat haar hart dadelik weer gaan staan het.

“Ek was in die kamer toe paramedici haar probeer help het. Dit is iets wat ek nooit sal vergeet nie,” het Eric Bell, Imani se pa gesê.

Imani se ouers het vroeër vanjaar ʼn regsgeding aanhangig gemaak waarin hulle beweer dat die afrigters bewus was dat Imani tydens die buiteligoefeninge vroeë simptome van hitte-uitputting getoon het. Hulle beweer dat sy steeds aangesê is om die kondisioneringsoefeninge te voltooi en by die stadion se trappe op te hardloop.

Sy het glo haar bewussyn verloor en inmekaargesak toe sy by die boonste trappe kom, het NBC News berig.

Die tiener se nadoodse ondersoek bevestig dat sy aan hitte-uitputting gesterf het en dat een van die afrigters haar moontlik fisiek by die stadion se trappe opgehelp het.

“Daar was reëls wat van die begin af gebreek is. ʼn Uur voordat die buiteligoefening begin het, is alle skole gewaarsku dat geen sport buite beoefen mag word nie,” het Justin Miller, die prokureur wat Imani se familie verteenwoordig, gesê.

“Daar was ook nie iemand met noodhulpervaring teenwoordig nie en geen ysbad waarin sy gesit kon word nie.”

Die twee afrigters van Elite Scholar Academy word nou aangekla van moord, strafbare manslag en wreedheid teenoor minderjariges. Dit is nog nie bekend of die afrigters steeds in diens is by die skool nie.

Imani se pa is ook ʼn basketbal-afrigter by ʼn hoërskool en het aan CBS News gesê dat daar ʼn les uit sy dogter se dood geleer kan word.

“Elke kind wat op ʼn afrigter se span is, moet soos hul eie behandel word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rooikoos

“het die provinsie alle skole gewaarsku”
Ek het nie geweet dat daar provinsies in Amerika is nie?

Jack Russ1

Stem saam met hom en ook nie saam nie. Daar is sekere mense wat ek nie wil he dat hulle my kinders moet hanteer soos hulle eie nie Dan ook as self ‘n afrigter voel ek dat jy elke kind met respek moet behandel en hom oefen binne perke, dit maak nie saak of dit jou kind is of nie. Jou kind moet jy hanteer soos al die ander. Die spelers (en ouers) kom baie vinnig agter dat as jy die spelers verskillend hanteer. Ek het al vele kere gehad wat die ouers halfpad deur die seisoen verbaas is as… Lees meer »

soosekditsien

… buiteligoefeninge?
Was die oefeninge onder die buitelig?