Afrika-leiers gee Niger-junta week om mag oor te gee

Betogers juig terwyl Nigeriese soldate voor die Franse ambassade in Niamey, Niger, stelling inneem. Pres. Mohamed Bazoum, president, is vroeër vandeesweek tydens ‘n staatsgreep ontsetel. (Foto: AFP)

Afrika-leiers het die junta in Niger Sondag ʼn week gegee om mag oor te gee of die moontlike gebruik van geweld die hoof te bied en het terselfdertyd finansiële sanksies teen die rebelleleiers ingestel. Die jongste staatsgreep in die djihadiste-geteisterde Sahel-streek het gevaarligte op die vasteland en in die Weste laat flikker.

In ʼn derde staatsgreep oor ʼn tydperk in die Sahel word Niger se verkose president en Westerse bondgenoot, Mohamed Bazoum, sedert Woensdag deur die weermag aangehou.

Genl. Abdourahamane Tiani, hoof van die magtige presidensiële mag, het homself tot leier verklaar.

Bazoum is een van ʼn krimpende groep verkose presidente en pro-Westerse leiers in die Sahel, waar ʼn djihadiste-insurgensie sedert 2020 staatsgrepe in Mali en Burkina Faso uitgevoer het.

Die voormalige koloniale mag Frankryk en die Europese Unie (EU) het ná die staatsgreep veiligheidsamewerking en finansiële hulp aan Niger opgeskort, terwyl die VSA waarsku dat sy noodleniging ook in die weegskaal hang.

By ʼn noodberaad in Nigerië het die 15 lede van die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrika-state (Ecowas) geëis dat Bazoum binne ʼn week heringestel moet word. Indien nie, sal Ecowas “alle maatreëls” instel om konstitusionele orde te herstel.

“Sulke maatreëls kan die gebruik van geweld insluit,” het die groep in ʼn verklaring gesê en bygevoeg dat Ecowas-verdedigingshoofde Sondag vergader.

Dit was nie dadelik duidelik hoe Ecowas sou kon ingryp nie. Die blok het verlede jaar ooreengekom om ʼn streeksveiligheidsmag op die been te bring in die stryd teen djihadiste en om staatsgrepe te verhoed, maar besonderhede oor die mag en hoe dit gefinansier sal word, is onduidelik.

Ecowas het ook finansiële sanksies teen die junta-leiers en die land ingestel en alle “kommersiële en finansiële transaksies” tussen lidlande en Niger, een van die wêreld se armste lande, ingestel.

In ʼn verklaring wat Saterdagaand regstreeks op TV uitgesaai is, sê junta-lid Amadou Abdramane die beraad se doelwit is om ʼn “plan van aggressie teen Niger goed te keur, in die vorm van ʼn dreigende militêre ingryping in Niamey”.

Die ingryping “sal in samewerking wees met Afrika-lande wat nie lede van die streeksliggaam is nie, asook sekere Westerse lande”, het hy gesê.

In die hoofstad Niamey het duisende mense Sondag ter ondersteuning van die junta Russiese vlae en vlae van Niger buite die parlementsgebou geswaai.

Hulle het daarna na die Franse ambassade verskuif, waar krete soos “lank lewe Poetin” en “weg met Frankryk” weergalm het. Soldate het die skare met traanrook uiteengejaag. Sommige mense het die ambassade probeer bestorm, maar is ook met traanrook gestuit.

ʼn Aantal betogings het daarna vir die Amerikaanse ambassade gemik.

Frankryk het die aanval op sy ambassade veroordeel en gewaarsku dat hy sal optree indien sy burgers of belange geteiken word. Die land sê ook hy sal alle streeksinisiatiewe steun om orde in Niger te herstel.

“Sou enigiemand Franse burgers, die weermag, diplomate en Franse belange aanval, sal Frankryk dadelik en indringend optree,” het die Franse presidensie gesê.

Niger se bure en voormalige Franse kolonies – Mali en Burkina Faso – word ook sedert 2020 deur militêre staatsgrepe geteister. Dit word aangevuur deur woede oor burgerlike owerhede se mislukking om djihadiste-groepe met bande met die Islamitiese Staat (IS) en Al-Kaïda te stuit.

Tiani sê opstand in Niger was ʼn reaksie op die “aftakeling van die veiligheidsituasie wat verbind word met djihadiste-bloedvergieting, asook korrupsie en ekonomiese teëspoed”.

Onstuimige politieke geskiedenis

Niger se president, Mohamed Bazoum. (Foto: PresidenceNiger/Twitter)

Ná ʼn vlaag veroordelings van die staatsgreep is strafmaatreëls reeds in die Weste ingestel.

Frankryk, wat 1 500 soldate in Niger het, het Saterdag gesê hy skort ontwikkelings- en begrotingshulp aan dié land in Wes-Afrika op. Die land het gevra vir ʼn “onmiddellike terugkeer tot grondwetlike orde” en die herinstelling van pres. Bazoum.

Die EU se diplomatieke hoof, Josep Borrell, het intussen gesê die groep lande sal nie die leierskap erken nie. Alle veiligheidsamewerking met Niger is dadelik opgeskort en alle begrotingshulp is gestaak.

Borrell sê die EU is gereed om Ecowas se toekomstige besluit te steun, wat “insluit die aanvaarding van sanksies”.

Die VSA, met omtrent 1 000 soldate in Niger, het Washington se steun aan Bazoum bevestig en diegene wat hom aanhou, gewaarsku dat hulle “jare lange suksesvolle samewerking en honderde miljoene dollars in hulp bedreig”.

Die Afrika-unie (AU) het die weermag in Niger twee weke gegee om “konstitusionele gesag” te herstel. Die AU het die staatsgreep in die “sterkste terme denkbaar” veroordeel en sy diepe onrus oor die kommerwekkende voorkoms van staatsgrepe in Afrika te kenne gegee.

Ondanks groot uraanneerslae lê Niger gewoonlik laaste op die Verenigde Nasies se indeks van menslike ontwikkeling. Die land het sedert onafhanklikheidswording in 1960 ʼn onstuimige politieke geskiedenis agter die rug, met vier suksesvolle staatsgrepe – waaronder twee teen Bazoum – reeds agter die rug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Harley Davidson ·

Gaan hulle puten vra om te help of gaan sa sy weermag in span om hulle pak te gee…lol

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.