Afrika se oudste nasionale park sluit vir eers oor veiligheid

Virunga-veldwagters-02

ʼn Argieffoto van veldwagters wat ʼn groep besoekers deur die Virunga Nasionale Park naby dié park se grens aan Uganda in die ooste van Kongo begelei. Foto: AP/Jerome Delay/ANA.

Aanvalle op veldwagters en die ontvoering van toeriste het daartoe gelei dat die Virunga Nasionale Park, die tuiste van die kritiek bedreigde berggorilla in die Demokratiese Republiek van die Kongo, tot 2019 gesluit sal wees.

Emmanuel de Merode, direkteur van die park, het Sondag gesê dit word gedoen om die veiligheidsmaatreëls in die park na te gaan en verder op te skerp.

Toegang tot die nasionale park is op 14 Mei opgeskort nadat ʼn wildbewaarder dood is in ʼn voorval op 11 Mei waartydens twee Britse toeriste ontvoer en hul drywer gewond is. Die Britse paartjie is twee dae ná die ontvoering vrygelaat.

Maroela Media het in April berig oor ʼn groep veldwagters wat ook deur rebelle in die park aangeval is. Ses van die veldwagters het in die hinderlaag gesterf en die leier van die span is in die voorval gewond. Nog ʼn veldwagter is op 2 April dood nadat gewapende mans hom oorval het waar hy as veiligheidswag by ʼn bouterrein van ʼn hidroëlektriese kragsentrale in die park gevestig was.

“Die veiligheid van ons besoekers sal altyd ons hoogste prioriteit bly. Om te verseker dat Virunga ʼn veilige plek is om te besoek, gaan ons meer robuuste maatreëls moet instel as in die verlede. Dit sal ʼn groot belegging verg en sal ons verhoed om vanjaar weer vir toerisme te heropen,” het De Merode gesê.

De Merode is self in Mei 2014 in ʼn hinderlaag tussen die park en Goma, die hoofstad van Noord-Kivu, gewond.

Times.com berig politieke onsekerheid het skerp in die land toegeneem sedert pres. Joseph Kabila se tweede ampstermyn in 2016 verstryk het en hy geweier het om uit te tree. Die DRK dreig tans om weer in ʼn burgeroorlog te verval soos tussen 1997 en 2003 wat tot die dood van vyfmiljoen burgers gelei het en die park van sy wildlewe gestroop het.

Volgens die nuusagentskap die African News Agency het ʼn toenemende onrus in Noord-Kivu ook veroorsaak dat honderde mense uit huise in die park in gevlug het.

Dié nasionale park se veldwagters voer ook ʼn opdraande stryd teen talle gewapende milisie, stropers en smokkelaars. Sowat 175 veldwagters het in die laaste twee dekades in die park gesterf terwyl hulle Virunga se wildlewe beskerm het.

In die laaste 10 maande het daar reeds 12 veldwagters in die park gesterf, wat reeds die berugte reputasie as die gevaarlikste bewaringsprojek in die wêreld het.

Virunga Nasionale Park beslaan 7 800 vierkante kilometer en het voorheen as die Albert Nasionale Park bekendgestaan. Dit is in 1925 as Afrika se eerste nasionale park gestig, ʼn jaar net voordat die Krugerwildtuin, Suid-Afrika se eerste nasionale park en een van Afrika se grootste wildtuine, gevestig is.

In 1979 is Virunga as ʼn wêrelderfenisgebied verklaar om die park se unieke ekosisteem en tuiste vir talle bedreigde spesies – waaronder sowat duisende berggorillas – te help bewaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.