Afrika-Unie staan saam oor Covid-19

Pres. Cyril Ramaphosa tydens ‘n vorige AU-beraad (Foto: Presidensie/Twitter)

Pres. Cyril Ramaphosa, voorsitter van die Afrika-Unie, het gesê die kontinent is verenig in sy stryd teen koronavirus-pandemie.

Ramaphosa het Donderdag ʼn telekonferensie met lede van die Afrika-Unie gehou om die kontinent se benadering oor die uitbreking van die nuwe koronavirus (Covid-19) te koördineer.

“Ons het dit op ʼn verenigde manier benader,” het Ramaphosa tydens ʼn perskonferensie gesê. “Nie een enkele Afrikaland moet dit op sy eie probeer takel nie. Ons sal so ver as moontlik probeer saamwerk en inligting deel waarmee elke land besig is. Kommunikasie sal ook verhoog word.”

Ramaphosa het gesê taakspanne sal vir die verskillende streke aangestel word waarby die lande betrokke kan raak en waarby Suid-Afrika se eie minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, betrek sal word.

“Ons doen ook ʼn beroep op die res van die wêreld, veral die meer ontwikkelde lande, om bystand te bied en hulpbronne te verskaf om die ekonomie in Afrika te stimuleer. Ons versoek dié lande om ook steeds toe te laat dat goedere na Afrika ingevoer kan word, sodat Afrika nie van die res van die wêreld afgesluit word nie.”

ʼn Sogenaamde “Afrika-koronafonds” (ʼn Solidarity Fund) is ook gestig om lande, met die grootste behoefte, by te staan. “Altesaam $17 miljoen is dadelik ingesamel deur die verskillende Afrikalande,” het Ramaphosa bygevoeg.

Ramaphosa het Donderdagmiddag ook ʼn spesiale virtuele vergadering van die G20-beraad bygewoon. “Ons is almal verenig in die besef dat ons alles in ons vermoë moet doen om die virus te beveg, lewens te red en ekonomieë te red.”

Hy het gesê Afrikalande het ʼn beroep op die G20-lande gedoen om stimuluspakkette as skuldverligting te ondersteun. “Dit was ʼn wonderlike gesprek,” het hy bygevoeg.

Die president het ook op sy Twitter-profiel ʼn boodskap van hoop met Suid-Afrikaners gedeel voor die algehele landswye afsondering Donderdagaand om middernag ingestel word. “Ek doen ʼn beroep op ons almal om moedig te wees, om geduldig te wees en bo alles, om solidariteit en deernis aan mekaar te bewys. Laat ons nooit wanhopig wees nie, ondanks die uitdagings wat tans deur ons land in die gesig gestaar word, want ons is ʼn nasie wat saamstaan en ons gaan beslis oorleef. Mag God ons mense beskerm. God seën Afrika.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stefan ·

Ons staan saam, met ander woorde, ons sal weer moet uitdeel.

Piet ·

Dankie aan die President vir sy standpunt “Mag God Afrika bewaar”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.