Afrikaner-borsbeelde in Nederland vergaar stof

Die borsbeelde van Paul Kruger, Christiaan de Wet en Louis Botha (Foto: Verskaf)

Talle borsbeelde van historiese Suid-Afrikaanse figure staan en vergaar stof in store in Rotterdam, Nederland, nadat die geboue waarin dit oorspronklik bewaar is, gesloop is. Van die beelde is boonop oor die jare vernietig.

Só het Ahmed Aboutaleb, burgemeester van Rotterdam, beaam nadat Leefbaar Rotterdam, ’n Nederlandse politieke party, einde Januarie vrae aan Rotterdam se stadsbestuur hieroor gestuur het. Die party was bekommerd omdat borsbeelde van historiese Suid-Afrikaanse figure uit die Afrikaanderwijk, ʼn buurt in die hartjie van dié stad, verdwyn het.

Maroela Media het vroeër berig Geert Koster en Caroline Aafjes-Van Aalst, raadslede van Leefbaar Rotterdam, het ’n verduideliking van die stadsbestuur oor die beelde geëis. Die party wou ook weet of die stadsbestuur alternatiewe het vir die bewaring en uitstalling van die beelde, en of daar nóg beelde en kunswerke is wat deur die munisipaliteit gestoor word.

Die beelde sluit in borsbeelde van drie Boere-generaals, Koos de la Rey, Christiaan de Wet en Louis Botha, asook van presidente Paul Kruger en MT Steyn. Dié beelde is aanvanklik in ’n gebou op die hoek van Bloemfontein- en Bothastraat in die Afrikaanderwijk in Rotterdam bewaar, totdat dié gebou in 2012 gesloop is.

Aboutaleb sê die beelde van die twee presidente was te swaar en is in die proses vernietig. Die beelde van die drie generaals is geplaas op die stoepe van die nuwe geboue wat in die woonbuurt opgerig is: De Wet en Botha in Bloemfonteinstraat en De la Rey in Brede Hilledijk.

Ses beelde van prominente Suid-Afrikaanse figure wat in ’n vertoonvenster in ʼn gebou op die hoek van Bloemfontein- en Paul Krugerstraat gestaan het, word egter nou in ʼn depot gestoor. Dié figure was deel van ʼn groep afgevaardigdes wat namens Transvaal en die Oranje-Vrystaat steun in Europa gewerf het tydens die Anglo-Boereoorlog. Die lede van die afvaardiging was Willem Leyds, Abraham Fischer, Cornelius Wessels, Andries Wolmarans en Johannes de Bruyn.

“Die winkel is in 2000 gesloop en die beelde is in die proses beskadig en witgekalk. Die borsbeelde word tans in die depot van Museum Rotterdam gestoor,” het Aboutaleb gesê.

In Martinus Steijnstraat is ʼn ornamentraam wat van 1902 dateer en wat tans dien as ʼn advertensieraam. Bo-aan die raam is die naam van Martinus Steyn, die president van die Oranje-Vrystaat, waarna die straat vernoem is. Die raam rus op die borsbeelde van Joseph Chamberlain, Britse minister van kolonies, en Cecil Rhodes, Britse entrepreneur en eerste minister van die Kaapkolonie.

Die raam staan steeds in dié straat, maar is intussen aan ʼn gebou geheg wat gesloop gaan word vanweë verdere ontwikkeling in dié spesifieke woonbuurt van Rotterdam. Aboutaleb sê die regering wil met die ontwikkelaars ooreenkom om die raam nie te vernietig nie, maar terug te plaas waar dit hoort.

“Rotterdam het ʼn groot versameling kunswerke en standbeelde. Daar is werke met historiese waarde, soos hierdie borsbeelde, wat nie sigbaar is in die buitelugruimte of in permanente of tydelike uitstallings in museums vertoon word nie, maar veilig bewaar word in dié museums se store,” sê Aboutaleb.

Die stadsbestuur sê hy werk saam met die museums om dié gestoorde versamelings te digitaliseer, sodat dit ook op ander maniere as net fisies aan die publiek tentoongestel kan word.

Die stadsbestuur en Leefbaar Rotterdam stem saam dat kultuurgeskiedenis en die bewaring daarvan aktief bevorder moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anel ·

Hulle sal iets daaromtrent doen. Hier sal dit net so gou as moontlik vernietig word.

Daniel ·

So jammer eerste Islam burgemeester (gebore Morroko) in Rotterdam. Hy en sy arbeidersparty sal alles in hulle vermoë om enige Afrikanerstukke te verwoes. Afrikaanderwijk is ongelukkig plek waar Turkse/Wes-Indiese/Morrokaanse immigrante woon. Lees meer hierop: https://en.wikipedia.org/wiki/Afrikaanderwijk

KAIROS ·

Kan mens dit dan nie gaan eis nie? Vra dat dit terug gebring word na Oranje?

koos10 ·

Dis nie ‘n ander land se plig om ons geskiedenis te bewaar nie, eintlik het hulle ons ‘n guns gedoen.

Onnie ·

Nee wat, gooi weg, niemand hier sal dit kan gebruik nie, EFF sal die apiestuipe kry! Plus ek glo nie aan beelde maak van mense van vlees nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.