Agt beseer, honderde dakloos ná gasontploffing

Die woonstelgebou het Woensdag gedeeltelik ineengestort. (Foto: Alex Rozier/Twitter)

Agt mense, onder wie vier brandbestryders, is Woensdag tydens ʼn gasontploffing beseer toe ʼn woonstelgebou in Dallas, Texas, gedeeltelik ineengestort het. Die skade aan die gebou was glo so omvangryk dat dit gesloop is en honderde mense in nabygeleë geboue, tydelik na veiligheid geneem moes word.

Brandbestryders van die Dallas Fire-Rescue is om 10:00 na ʼn woonstelgebou in die suide van Dallas ontbied, nadat inwoners glo aardgas geruik het, berig NBC 5 Dallas-Fort Worth.

Die brandbestryders het ondersoek ingestel en bevestig dat die reuk van die ingang afkomstig is. Tydens hul ondersoek het ʼn ontploffing plaasgevind, wat veroorsaak het dat die tweeverdiepingwoonstelgebou gedeeltelik inmekaargetuimel het.

Puin het glo byna 30 m in alle rigtings in geskiet.

“Die vier brandbestryders wat op die toneel was, is tydens die ontploffing beseer. Nog vier inwoners is ook beseer. Die beseerdes is na ʼn plaaslike hospitaal geneem vir behandeling,” het Jason Evans, woordvoerder van Dallas Fire-Rescue, gesê.

“Drie van die brandbestryders is stabiel, maar kritiek, terwyl die vierde een reeds uit die hospitaal ontslaan is nadat hy vir ʼn ligte besering aan sy voet behandel is.”

Die betrokke inwoners het matige beserings opgedoen en is ook reeds uit die hospitaal ontslaan.

Die ontploffing het glo die stabiliteit van die 10 eenhede in die woonstelgebou belemmer en is Donderdag gesloop. Die families wat in hierdie gebou gewoon het, is intussen met behulp van die Rooikruis-organisasie na hotelle in die gebied geneem.

Volgens NBC News het die ontploffing twee ander geboue in die gebied beskadig. Gevolglik is sowat 300 inwoners wat om die verwoesde woonstelgebou woon ook tydelik hervestig totdat ʼn deeglike veiligheidsondersoek afgehandel is.

“Dallas Fire-Rescue werk saam met die stad se kantoor vir noodbestuur, die Amerikaanse Rooikruis en die bestuur van die woonstelgebou om te verseker dat al die inwoners ʼn veilige tuiste het totdat die ondersoek afgehandel is,” het Evans gesê.

ʼn Grootskaalse ondersoek is van stapel gestuur om die presiese oorsaak van die ontploffing te bevestig. Owerhede is egter van mening dat aardgas die oorsaak was.

Die burgemeester van die stad, Eric Johnson, het lede van die publiek aangemoedig om die inwoners en beseerde brandbestryders in hul gebede te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pietertjie ·

Is dit die regte foto wat by die berig geplaas is? Al wat ek sien is ‘n enkel-verdieping gebou waarvan enkele vertrekke verwoes lyk. Ek kan nie glo dat daar honderde mense in dié klein geboutjie kon woon nie.

Zombie ·

Die volgende is ondermeer in die berig geskryf: “Die ontploffing het glo die stabiliteit van die 10 eenhede in die woonstelgebou belemmer en is Donderdag gesloop. Die families wat in hierdie gebou gewoon het, is intussen met behulp van die Rooikruis-organisasie na hotelle in die gebied geneem.
Volgens NBC News het die ontploffing twee ander geboue in die gebied beskadig. Gevolglik is sowat 300 inwoners wat om die verwoesde woonstelgebou woon ook tydelik hervestig totdat ʼn deeglike veiligheidsondersoek afgehandel is.”

ES ·

Pietertjie, die berig beweer honderde is dalkoos nadat hulle ontruim is – hulle eie huise is rondom die gebou gelee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.